ToekomsVenster: Hoe lyk die legkaart van jou lewe?

(Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. – Filippense 2:5-11

Ek is vrot met legkaarte bou. Dalk het ek nie die dissipline wat nodig is nie maar ek verloor belangstelling binne enkele minute. Tog is ʼn legkaart ʼn uitmuntende metafoor vir die lewe. Ek wil graag gedurende hierdie week met jou gesels oor legkaarte en hoe dit verband mag hou met ons lewens hier op aarde.

ʼn Legkaart bestaan uit afsonderlike eenhede. Die vorm van bykans elke skyfie verskil van die vorige. Sommige legkaarte het ʼn beskeie aantal stukke veral legkaarte soos die wat my kleinkinders, tot my skaamte, reeds op tweejarige ouderdom maklik aanmekaar sit.

Ander legkaarte het honderde, of selfs duisende stukke. Dink maar net hoeveel legkaartstukke daar in ʼn lewe van tagtigjarige moet wees.

Mense wat van legkaarte hou pak dit gewoonlik op ʼn tafel uit. Dan word die bou van die legkaart ʼn projek met ʼn lewe van sy eie. Elke aand na werk word ʼn uur of wat afgestaan daaraan om die legkaart verder te voltooi.

Dit is tog waaroor dit gaan, die legkaart moet voltooi word.

Op die houer waarin die legkaart verpak word, is ʼn kleurryke foto van die voltooide legkaart. Dit is waarheen daar gewerk word. Die volkleurfoto gee rigting en help om die stukkies te identifiseer en die regte plek daarvoor te vind.

Soms bou een persoon aan een deel van die legkaart en die ander aan ʼn ander deel. Uiteindelik is die trotse projek afgehandel en word die legkaart, of opgebreek en vir iemand anders gegee, immers, die uitdaging is met sukses begroet, of iewers in die huis in ʼn geraamde formaat vir die nageslag verewig.

Miskien wil jy vandag sommer net aan die lewe, jou lewe dink, en dalk wonder wat die prentjie sou voorstel.

Hoe lyk die legkaart van jou lewe, nee dalk liewers, hoe sal die legkaart van jou lewe aan die einde daaruitsien?

Jy het immers al begin om ʼn idee daarvan te vorm, veral as jy ietwat ouer is.

Dalk kan jy die Here vra om vir jou insae te gee. Die vraag is tog hoe lyk die legkaart wat Hy vir jou lewe het en is die een wat tans vorm aanneem in kontras daarmee of belyn daarmee?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here soms het ek van my legkaart stukkies verloor….en daarvoor kan ek net op U wonderlike genade staat maak …… Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.