
(Foto: Clément Falize/Unsplash)
“Jesus het hom geantwoord: ‘Die belangrikste gebod is die volgende: Luister, o Israel, die Here ons God is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag’.” – Markus 12:29-30 (NLV)
Geestelike gesondheid is die saak waaraan ons as gelowiges veronderstel is om deurlopend aandag te gee. Ons daaglikse omgang met God, tyd in gebed, ons persoonlike geloofstoewyding en ons betrokkenheid by ʼn geloofsgemeenskap is van kardinale belang. Ongelukkig het die pandemie mense lui gemaak en skuil baie agter die verskoning van aanlyn eredienste.
Ek maak geen verskoning daarvoor nie as ek prontuit sê dat belangrike dinge verlore gaan in ʼn konsekwente fokus op sosiale media. Uiteraard verwys ek nie na mense wat vanweë praktiese oorwegings soos fisieke ongesteldheid, afstand, ensovoorts nie anders kan as om dienste aanlyn te volg nie. Ek praat oor mense soos ek en jy, wat die seën van die Here oor ons lewens geniet, aan min kortskiet, en tog verskoning vind om nie die bietjie moeite te doen om tot by die naaste kerkgebou te reis nie.
Stry, die seën wat ons ontvang wanneer ons dit tog wel doen, plaas al ons verskonings in perspektief en openbaar dit vir wat dit is.
Vandag egter wil ek vir ʼn oomblik fokus op die noodsaaklikheid van ʼn gesonde emosionele onderbou vir en in jou lewe.
Die lewe het vele uitdagings en ten einde die uitdagings wat dit bring die hoof te bied is dit uiters noodsaaklik dat ʼn mens emosioneel gesond word. Soos wat die liggaam somtyds aan siekte, uitputting en swakheid blootgestel word, net so vind ʼn mens dit somtyds uitdagend om emosioneel paraat en energiek te handel.
Mense is broos, ook wat die emosionele betref.
Depressie is die siekte van ons tyd. Stres maak dat talle van ons medikasie nodig het ten einde die uitdagings die hoof te bied. Dank die Here dat hulp ook vanaf mediese kant beskikbaar is, en wanneer dit nodig is om daarvan gebruik te maak, is dit inderdaad ʼn manier waarop die Here voorsien.
Sommige mense se emosionele kapasiteit word tot so ʼn mate uitgeput dat hul nie langer kans sien vir die lewe nie. Selfmoord is aan die toeneem, veral onder jongmense en kinders. Die emosionele versorging van ons kinders mag nie agterbly omdat ons net op prestasie fokus nie. Ons het al dikwels gedagtes in die verband gewissel. Dit is egter eweseer op ons as volwassenes van toepassing.
Emosionele ongesteldheid gee aanleiding tot stukkende verhoudings, onttrekking, woedeuitbarstings, self bejammering, verwyte van self en ander, vrees en angstigheid. Al hierdie dinge is boodskapdraers wat vir jou wil vertel dat alles nie wel is met jou innerlike wêreld nie.
Moenie dit met ʼn teksversie probeer troos nie. Dit ʼn kortstondige beter voel, maar kom tot uitbarsting op ʼn tyd wat jy nie daarop voorbereid is nie.
Hoe gesond is jy emosioneel en wat doen jy daaraan?
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
Die artikel is wel nie duidelik oor hoé om na jou emosionele welstand om te sien nie, net dat jy moet.
Dit is juis my vraag ook. Hoe? Ja, jy weet jou emosionele gesondheid is “rock bottom”, maar hoe, waar en wie? Veral as daar geen finansies is vir dure behandelings nie.
Jy Jan na jou leraar gaan wat jou kan help onder pastorale dienste as jy aan ‘n geloofsgemeenskap behoort.Baie van hulle het ook sielkundige opleiding.As jy nie aan ‘n geloofsgemeenskap behoort nie,kan jy van jou vriendinne raadpleeg om jou na iemand soos pastorale hulp, na toe te verwys.Let wel: ‘n Ware vriendin is iemand wat enige iets vertroulik kan hou.Sterkte.