ToekomsVenster: Hoe ywerig is jy oor die dinge van jou hemelse Vader?

sonsondergang-vrede-stilte

Foto: Pixabay.com

Daarna het Jesus huis toe gegaan. ʼn Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ‘n stukkie te eet nie. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.” Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? As ʼn koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as ʼn huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde. “Bowendien kan niemand in ʼn sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van ʼn onrein gees besete.” – Markus 3:20-30

Die teks sê dat Jesus baie besig was sodat Hy nie eers tyd gehad het om behoorlik te eet nie. Probeer jou Jesus se sorgsame omgee en bediening voorstel. Mense stroom steeds in groot getalle na Hom toe. Hy neem hul swaarkry ter harte. Hulle is vir Hom belangriker as om selfs te eet.

Ons het almal al dae beleef waar dit so dol gaan dat jy letterlik nie nat of droog oor jou lippe geneem het nie. Mens verstaan iets van Jesus se bediening en die toewyding wat dit van Hom gevra het. Per geleentheid reageer Jesus dat Hy voedsel het waarvan die mense nie weet nie. Hy verwys na sy gerigtheid op die Vader en om sy wil te doen (Johannes 4:34). Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.

Ook hier is Jesus se dissipels bekommerd dat Hy nie genoeg eet nie.

Jesus se passie en toewyding is duidelik in hierdie gedeelte. Trouens dit is van so ʼn aard dat mense bekommerd is oor sy emosionele welsyn. Hy gun Homself nie ʼn oomblik rus nie. Uiteraard moet ʼn mens genoeg eet en slaap, rus en ontspan ter wille van jou emosionele en liggaamlike gesondheid. Tog wil hierdie gedeelte vir ons iets sê oor presies hoe ernstig Jesus sy roeping geneem het.

Mense is soms bekommerd dat hul sonde gedoen het wat nie vergewe sal word nie. Jesus is hier duidelik oor die een sonde wat nie vergewe kan word nie, die sogenaame sonde teen die Heilige Gees. Laasgenoemde is om konsekwent, sonder aarseling en moedswillig God te verwerp, Hom verdag te maak, jou rug op Hom te draai en in daardie toestand te sterwe.

Derhalwe moet ʼn mens versigtig wees om ander hieraan skuldig te bevind.

Wat in die diepste wese van ʼn mens gebeur is nie altyd duidelik nie. God sal regverdig oordeel.

Wat wel belangrik is, is dat ʼn mens jou nie teen God sal verset nie. Hy is in die hemel en heilig sê die teks iewers. God is verhewe en nie ons speelmaat nie.

Aan die anderkant het Jesus vir alle ander sondes gesterf en kan ʼn mens rus vind dat Hy steeds bereid is om sonde en ongeregtigheid te vergewe.

As ons weer na die teks luister vra jouself af met hoeveel ywer jy besig is met die dinge van jou hemelse Vader. Is daar fokus en passie by jou te bespeur wat maak dat jy somtyds bereid is om jouself sekere voorregte tydelik te ontsê terwille van die groter taak?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riaan ·

Wat jy glo verander nie die realiteit nie. Presies soos die resultaat van iemand wat oor n afgrond loop dieselfde sal wees – of hy glo in gravitasie of nie. Ook jy sál Hom sien en ook jou knie sal buig. Ek dink tog jy het n behoefte om Hom te leer ken – Hy is dan jou skepper.

Jeandré ·

Mense glo nie in die bestaan van bose geeste nie maar kyk net hoe besig was Jesus met duiweluitdrywing. Jou liggaam is óf ‘n tempel vir God se gees, óf die dwaalplek van bose geeste. Aan die vrugte sal jy die boom ken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.