ToekomsVenster: Hoopvolle mense is aktief

positief

Argieffoto.

Judas 1:24-25: Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Judas benadruk vier dinge wat ons van die dwaalleraars onderskei, naamlik geloof, liefde, hoop en gebed (1:20-25). Dit sluit baie mooi aan by wat ons oor die afgelope nege weke gesê het. Kom ons kyk kortliks na hierdie laaste verse in Judas.

Judas sê dat Christene deur die krag van die Heilige Gees moet bid (1:23).  Dit beteken dat Christene onder beheer van die Heilige Gees moet bid. Dit beteken om God Gód te laat wees in my lewe.  Deur gebed erken ons die gesag van ons Heer en Meester! (1:4). Dis ook wat sy gebed vir die gelowiges aan die einde van die brief sê (1:24,25). Hy is Heer! Hy regeer! Hy bewaar!

Die hoop van Christene is gevestig op die barmhartigheid van God, sê Judas (1:21). Aan God se liefde hoef ons nooit te twyfel nie. Die Christelike hoop is dus nie ’n vae wens dat dinge dalk sal uitwerk nie.  Dit is ’n vaste wete dat God ons nie in die steek sal laat nie.

Om jou hoop op God se barmhartigheid te vestig is om te bly glo.  Ons word deur die geloof wat ons deel, aan mekaar gebind.  Daarom sê Judas dat ons ons lewe op ons geloof moet bou (1:20). Hy bedoel nie dat ’n mens jou geloof moet bou op iets in jouself nie. Hierdie geloof is een maal aan hulle geskenk (1:3). Elke gelowige moet sy of haar lewe volgens hierdie geloof inrig. Die dwaalleraars is nie bereid om  in gehoorsaamheid aan die Here te lewe nie (1:4). Hulle is soos wolke wat nie reën bring nie en bome wat geen vrugte dra nie (1:12).  Iemand wat sy lewe bou op die geloof wat God geskenk het, is mense wat hulle geloof lééf. Die geloof is nie iets privaat of ’n blote individuele saak nie.

Gelowiges se lewe getuig van liefde.  Judas sê dat hulle in die liefde van God moet bly (1:21). Hierdie liefde is die liefde wat hulle van God ontvang het (1:1,2).  God het ons lief en bewaar ons.  Om in die liefde van God te bly, is om te rus in sy liefde vir ons! Dit beteken dat ons ’n gemeenskap is wat by die waarheid van die evangelie bly.

Om in die liefde van God te bly ook om om te gee vir mense wat in twyfel verkeer weens valse leringe (1:22). As een liggaam, is ons mekaar se wagters wat met medelye vir mekaar omgee. Christene kan nie anders nie.  Ons mag mense nie aan hulself oorlaat nie.  As hulle in twyfel verkeer en ons help nie, watter soort liefdesgemeenskap is dit? So wys ons dat ons die liefde verstaan wat God aan ons geskenk het.

Ons het ’n toekoms.  God is die een wat ons deur Jesus Christus bewaar (1:1).  God hou aan om ons te bewaar.  Die skrywer bring ’n loflied aan die Here wat die mag het om hulle van struikeling te bewaar (1:24).  God sal deur Jesus Christus aan ons die ewige lewe skenk (1:21).  Daarom het ons hoop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.