ToekomsVenster: Hoor en doen

luister-na-God

Argieffoto.

My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red. – Jakobus 1:19-21

Spreuke 4:20 – My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde!
Spreuke 18:21 – Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

Twee ore en een mond – so het God ons gemaak en daarmee het Hy ʼn spesifieke doel. Luister twee keer soveel as wat jy praat. Ons almal het die ervaring dat iemand anders jou sinne vir jou klaarmaak. Die persoon mag dink dat dit van goeie begrip getuig maar dit word as kru en ongemanierd beleef. Die boodskap is “praat gou, ek is haastig”.

In ons tyd het dit so noodsaaklik geword dat ons veral terwille van die genesing van ons land sit en luister na die verhale en belewenisse van ander mense. Ons wil dikwels ons eie verstaan van die wêreld aan ander mense opdring maar is nie gewillig om na hul verstaan te luister nie. Mense is vol van hulself en eintlik ʼn bietjie arrogant in die wyse waarop hul hulself aanbeveel. Die wyse waarop mense in die media, veral op sosiale media reageer wanneer iemand ʼn ander standpunt huldig as die wat hulle het, is ʼn verdere aanduiding dat ons nie graag luister nie. Dis ook die rede waarom ons gebedslewe ook dikwels ʼn monoloog is.

Ons is haastig en wil net hê God moet hoor wat ons te sê het. Ons wag nie lank genoeg om te hoor hoe Hy voel nie. Dis ʼn groot jammerte. Huwelike lei onder hierdie soort kommunikasie. Somtyds verskreeu die een party so dat die ander dit nie waag om iets te sê nie. Die vrede moet ten alle koste bewaar word. Kinders is te bang om hul mening te huldig omdat die vader en of moeder ʼn outokratiese leefstyl en houding het. Sulke kinders kom iewers in opstand, dis onafwendbaar. Die Bybel maan ouers om hul kinders nie moedeloos te maak nie.

Die Here veral wil graag met ons praat, maar is ons op ʼn plek waar Hy kan sê wat op sy hart is?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.