ToekomsVenster: Hoor Here, vergewe Here

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.  – Daniël 9:4-5

Gedurende hierdie week het ons aansluiting gevind by die dinge wat tans in die media aandag geniet. ʼn Berig wat my aandag getrek het lui: “ons is almal oor ons land skaam”.

Skaamte is nie noodwendig ʼn  slegte ding nie. Daar is skaamte wat tot bekering en herstel lei. Skaamte wat geregverdig word terwyl dit ten hemelse skree is krimineel.

In Bybelse tye het profete en ander prominente figure hul met hul volk se verleentheid identifiseer en belydenis voor God gedoen. Een so ʼn figuur is Daniël.

Hoor hoedat hy die agteruitgang van God se volk in die ope bring en om genade smeek.

In die gedeelte wat volg bely Daniël die opstand en rebelsheid van die Godsvolk wat lank reeds van God vervreemd geraak het.

“Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.” – Daniël 9:17-19

Vingerwys sal nie help nie. Het ons nie saam gefaal nie? Het ons gepraat en getuig toe ons dit moes doen? Was ons protesterend op straat, of gemaklik tuis?

Het ons ons mandaat om te mag stem uitgeoefen, of eerder verskonings aangebied?

Nog meer, het ons gebid, vir die regering en die besluite wat daar gemaak word? Het ons gebou of afgebreek?

Dalk is Daniël se belydenis gepas: “Hoor Here, vergewe Here”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.