ToekomsVenster: Hou aan met bid

gebed

(Argieffoto)

Met die goddelose wat nie vir God dien nie, sal dit nie goed gaan nie. Soos ‘n vlugtige skaduwee wat gou verdwyn, sal die goddelose nie lank lewe nie. – Prediker 8:13

Die wêreld varaan ons deel het, het sy ontstellende kwota goddeloosheid. Mense wat onverskillig lewe so asof daar nie ʼn  dag van afrekening kom nie, dit terwyl die Bybel getuig dat dit vreeslik is om in die hande van die lewende God te val. In die laaste dag met Christus se verskyning sal die goddelose hoop dat die berge en heuwels hulle sal bedek maar daar sal rekenskap gegee word van alles wat gedoen is, of dit goed was of sleg.

Somtyds raak ʼn mens ontsteld oor die oënskynlike voorspoedigheid en sorgeloosheid van mense wat aan God en sy gebod geen erg het nie.

Die digter van Ps. 73 is baie eerlik as hy sy ongemak met die situasie verwoord: “Hulle het geen sorge nie en trots hang aan hulle soos ʼn  halssnoer. Maar dat ek die verkeerde vermy het beteken niks nie want elke dag presenteer met sy kwota sorge en swaarkry”.

Ek reken ons voel ook somtyds so. Suid-Afrika met sy geweldskultuur en die ontstellende disrespek vir lewe, dryf ʼn mens tot raserny. Daar is uiteraard verskeie ander voorbeelde van goddeloosheid waarvan die media elke dag getuig.

Die Here wil nie hê dat enige mens verlore sal gaan nie. Die ideaal is dat goddelose mense hul van die verkeerde bekeer en hul toevlug tot God neem. Dit is egter onrealisties om te dink dat almal dit sal doen.

Dit is inderdaad asof die verkeerde en die oënskynlike voordele wat dit inhou, mense in so ʼn  mate verblind, dat hulle halsstarrig voortgaan met die verkeerde.

Ons taak as gelowiges is om nie op te hou bid dat die lig van God se Woord en sy genade aanbod in hul lewens sal deurbreek nie.

Die gebeure aan die kruis demonstreer hoe dit met die goddelose gaan. Die een sê, dink aan my Here en die ander spot en bespot.

Ons moet egter nooit vergeet waar die Here ons kom haal het nie, dat daar nie klein en groot sondes is nie, dat sonde rebellie en hoogverraad is en dat ons almal die ewige dood verdien nie.

Goddank dat die Heilige Gees ons oë oopgemaak het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.