ToekomsVenster: Hou die oë op Jesus

(Foto: Blake Cheek/Unsplash)

Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!” – Markus 1:40-41

Hoe kom ʼn mens verby hierdie teks as jou eie mense, desnoods jyself, dieselfde gebed gebid het en siek bly het?

God se Woord is tog waar, Sy beloftes staan vas en Hy is in staat om te doen wat Hy belowe. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Sy hart is gevul met deernis en omgee. Hy wil nie dat sy kinders swaarkry nie.

Daar het vir hierdie melaatse genesing gekom, die teks sê, onmiddelik. Jy bid al so lank en tog bly jy siek. Mense na aan jou is deur Covid-19 platgetrek en sommige het jou gebede ten spyt gesterf. Waar lê die fout en hoe moet ʼn mens dit verstaan?

Natuurlik het ʼn klompie welmenende mense toegetree en jou aangemoedig om met die dinge in jou verlede uit te werk, bande van allerlei aard af te sny en dit alles in Jesus se Naam te doen. Ander het gewys op ongeloof, ongehoorsaamheid of troos gesoek daarin dat ons eendag hemel toe gaan. Al hierdie dinge het waarde, maar dit bevredig nie volledig nie want, ons verstaan God nie. Hy kan nie dissekteer word, analiseer en verklaar word en aan verklikkertoetse onderwerp word nie.

God maak nie oordeelsfoute nie, Hy tree regverdig op en Hy word met misterie omhul.

Feit van die saak is, Hy is God en ek ʼn mens. Hy weet alles en ek weet bitter min. Hy sien alles en ek kyk deur ʼn skrefie.

Ek lees vanoggend in my stiltetyd die teks in Hebreers 10:32:

“Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly”.

Die Christene, versprei oor die destyds bekende aarde en aan vervolging onderworpe ly vir hulle geloof. Die Hebreerskrywer moedig hulle aan om hul geloofsvertroue nie prys te gee en terug te sak nie.

Hou die oë op Jesus, die begin en die voleinder van die geloof. Hy het gelowig end uit gestry, nie handdoek ingegooi en omgedraai nie. In sy spore kan ons die wedloop aandurf.

Die vraag waarmee ek begin het, roep sedert die begin van die geskiedenis om ʼn antwoord. “Waar is God as mense swaarkry?”

Die beste en enigste antwoord wat ʼn mate van vrede bring is, Hy is daar.

Ondersteunend en vertroostend, daar. Somtyds genesend maar nie altyd nie. Waarom? Net Hy weet.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.