ToekomsVenster: Hy begin by sy kinders

Foto: Oliver Paaske/Unsplash

As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. – 2 Kron. 7:13-14

As dinge deurmekaar loop, (Suid-Afrika is deurmekaar), plaas die Here sy vinger op dit wat verkeerd mag wees in ons lewens en waarskynlik aanleiding gee tot die ongemaklik in die samelewing.

Ek wil  dit duidelik stel dat ek nie vir jou met skuld wil belaai nie. Dit is iets wat elkeen van die Here se kinders self moet oorweeg en oor moet bid.  Om die oefening te doen, introspeksie te onderneem en daaroor te bid openbaar my eie hart se ingesteldheid, ook die frekwensie waarop ek my self bevind. Dit meet die temperatuur van my geestelike lewe, veral as ek toelaat dat die Heilige Gees spreekwoordelik sy duim plaas op my lewe as individu maar ook as deel van sy volk, die kerk.

In gesprek met Salomo posisioneer die Here die aangeleentheid voor die deur van sy kinders. Mens sou kon vra waarom die Here nie met die kriminele, misdadigers, dwelmverslaafdes, verkragters en korruptes praat nie maar begin by sy kinders? Immers, ons is verbondsmense.

Luister fyn na die teks. Die Here sê as daar ongemak is in die samelewing  en “my volk, oor wie my Naam uitgeroep is” toon berou.

“My” kom twee keer voor. Ons is syne. Sy eiendom, ʼn koninklike priesterdom; uitverkore om te verkondig “die reddingsdade van Hom wat ons tot hier gebring het”. Ons behoort nie aan onsself nie maar is losgekoop en die prys is betaal. Ons weerspieël die beeld en gelykenis van die Vader.

Is jy deel van hierdie korpus? Sy volk en sy naam, Christene.

Ek kan my nie eers voorstel dat jy sou sê ‘ek is willens en wetens nie deel daarvan nie’. Veel eerder, ‘ja, dit is waar ek tuiskom, my kruisie trek, Hy is my Here, ek wil Hom volg. Ek het immers belydenis van geloof afgelê, is ʼn gedoopte, inderdaad deel van die volk van die Here’.

Dinge verkeerd in die samelewing? Die Here praat met sy volk, daar is geen twyfel wie die aangesprokenes is nie.

Heiligmaking is om onberispelik en toegewyd aan Hom lewe.

Die teks sê ons, die kerk moet berou toon, bid, vra en wegdraai van wat verkeerd is.

Dit is moeilik om hieraan te sluk. Ons wil van nature die skuld weg van ons laat weerkaats, vingers wys, krities wees en dit voor ander mense parkeer.

Die Here sê egter, staan ʼn oomblik stil en oorweeg wat van julle geword het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Here Jesus U is die kenner van harte…ek bely dat ek skuldig staan en net U kan my vergewe…dankie Here

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.