ToekomsVenster: Hy bring verandering

(Foto: Pablo Heimplatz/Unsplash)

Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ‘n laagte. Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog. Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” – Esegiël 37:1-3

Ek het verskeie gunsteling gedeeltes in die Bybel, ek glo jy ook. Hierdie gedeelte in Esegiël het my nog altyd aangespreek.

Die konteks en omgewing word grafies beskryf. Daar kan geen twyfel wees dat wat Esegiël sien desperaat, donker en hopeloos is nie. Die hele generasie het uitgesterf. Al wat oorgebly het van ʼn eens lewende en selfs welvarende gemeenskap is die bene.

Die toestand duur ook al geruime tyd. Dit is baie bene en hulle is droog. Wat sou aanleiding gegee het tot die toedrag van sake?

Dit is uiteraard ʼn beeld wat Esegiël sien, ʼn beeld wat ʼn bepaalde boodskap wil oordra. Dit is ʼn beeld van Israel se geestelike toestand voor God en mekaar. Dit gaan al vir ʼn lang tyd sleg met hulle. Hulle word van alle kante en op allerlei wyses verdruk. Stelselmatig het die sin van die lewe by hulle verbygegaan. Dit is ʼn moeitevolle proses om te probeer voortgaan.

Iewers langs die pad het die moedeloosheid en hopeloosheid net so oorweldigend geword dat hulle handdoek ingegooi het. Wat nog oorgebly het, het ook vergaan.

Esegiël word met ʼn onmoontlike vraag gekonfronteer. Die antwoord is tog duidelik en vanselfsprekend. Wat dood is, is dood en kan met die beste bedoeling nie herleef nie. Wat verby is, is verby. Maak vrede daarmee en aanvaar die slegte toedrag van sake.

Esegiël wil darem nie hê dat die Here sleg van hom dink nie. Sy antwoord is ʼn ja en nee antwoord. Die nee gedeelte sê “ek dink nie so nie”. Die ja gedeelte sê “ek wil U die voordeel van die twyfel gee”.

Dit is genoeg vir God om aansluiting by te vind. Esegiël kry opdrag om die dooie bene in die kragveld van die Gees te bedien met die lewegewende Woord van die Here. As hy moed skep en seker stamelend die eerste woorde uiter gebeur daar inderdaad iets.

Soos die bene in beweging kom word Esegiël se geloof versterk. Ek stel myself dit voor dat Hy die wil en sorg en omgee en liefde en herstellende vernuwende belofte en genade van God teen die einde uitbasuin.

Uiteindelik staan hulle daar, ʼn menigte. Hy moet weliswaar ʼn tweede beweging uitvoer – die geskiedenis is aan ons bekend. Die kruks van die saak is dat die onmoontlike tog gebeur. God laat dit gebeur.

Jou konteks mag hopeloos lyk. Vertrou God daarmee. Hy kan daaraan ʼn verandering bring.

Dalk word jy geroep om iemand anders wat op moedverloor se vlakte is met lewende Woorde wat hoop gee te bedien. Ons almal het dit van tyd tot tyd nodig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Wonderlik, dankie Jannie. Ly deesdae aan hierdie korttermyn geheue siekte…. en vergeet tog so maklik hierdie kragtige gedeeltes wat SO van toepassing is

Blomme

AMEN… So effektief van toepassing op die haglike situasie tans in die wêreld. Wêreld leiers met die hande in die hare, sterftes en siekes oral om ons, die vaksienes wat ook nou nie blyk die oplossing te wees, ekonomies wat inmekaar val en….en…en! Hoe vanpas is die gedeelte tog om ons weer te herinner dat NIKS by God onmoontlik is nie. Dankie vir die gedagte uit Esegiël. Ons weet verseker daar is hoop in die ‘ hopelose’ omstandighede.