Jesaja 25:1 – Here, U is my God!
Ek vertrou dat die sinsnede waaroor ons hierdie week gesels sommer diep in jou hart kom woning maak het. Mag dit waar wees dat daar by jou geen maar geen twyfel bestaan dat hierdie genade ook vir jou bedoel is nie.
Met verwysing na gister se saamgesels, wie hom op die genesende krag van die Here Jesus beroep, ontvang omvattende genesing.
Genesing is meer dikwels ʼn proses. Met verdrag word jy bewus dat jy beter voel totdat jy volkome herstel het.
Die genesing wat God deur sy Gees bewerk is holisties en omvattend. Liggaam, siel en gees word gesond.
Dit neem egter tyd, veral die genesing wat aan die binnekant moet plaasvind. Wees daarom geduldig en laat mense met die nodige vaardighede en kennis toe om jou op die pad by te staan. Somtyds in ʼn normale situasie moet verbande omgeruil, medikasie aangepas en metodiek aangepas word. Jy moet gereeld by ʼn fisio uitkom, jou oefeninge getrou doen en voorskrifte volg. In oordragtelike sin is dit ook waar.
Die Here is God, ja, meer as dit, Hy is jou God. Dit is ʼn asemrowende belydenis. Dit het gekom deurdat jy hom met jou hartseer, pyn, teleurstelling, ook sonde en uitdagings vertrou het. Deur die wedergeboorte het Hy jou ʼn nuwe hart gegee. Nou moet die invloed daarvan soos suurdeeg van jou hele lewe besit neem.
Dit is bevrydend, uitdagend, tydsaam en ʼn lewenslange reis. Jy sal egter intens bewus wees dat ʼn ander krag in jou werksaam is. Jou voorkeure verander. Iewers binne jou is daar ʼn stem wat sê, “nie hierdie pad nie maar daardie een”. Jy word van bonatuurlike leiding in jou lewe bewus.
Mense rondom jou vra wat met jou gebeur het. Hulle is nuuskierig en wil weet wat die ommeswaai in jou lewe teweeg gebring het. Hulle praat onder mekaar en wonder of die verandering net ʼn spreekwoordelike nuwejaarsvoorneme is en of dit volhoubaar gaan wees.
Sommige beskou jou op ʼn afstand en wonder. Ander praat reguit en vra wat gebeur het. Jou belydenis is eenvoudig, ek was blind en nou sien ek, ek was doof en nou hoor ek, ek was verlore maar is nou sy kind.Alles is genade en onverdiende guns alleen.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Dis wat ons hele land nodig het………
ESÉGIËL 36:26 AFR53
En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.