ToekomsVenster: Hy is die begin en die einde

Foto: Rose Erkul/Unsplash.com

Die Openbaring 1:8 – “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Alfa en Omega soos jy weet is die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet. Dit beteken, Hy is die begin en die einde, die oorsaak en die gevolg, die vertrekpunt en die konsentrasie punt van alles. Buite Hom gebeur niks nie. Hy omsluit alles, sluit alles in en het alles onder beheer.

Dit is somtyds moeilik om die konkrete bewys daarvan in ons deurmekaar wêreld te sien. Somtyds wil dit voorkom asof God handdoek ingegooi het, asof Hy skouerophalend weggestap het van ʼn wêreld wat lankal koers verloor het. Ek sou God dit nie kwalik neem nie. Die werklikheid is somtyds so ver verwyder van die goeie bedoelings wat Hy daarmee gehad het.

Ons het gister na die goeie en volmaakte skepping verwys. Sommer gou nadat die mens geskep is,  is die slang op die toneel. Die mens is haastig om sy leuens te glo. Rebellie is die mens se grondhouding. Die mens wil baas wees, self besluit en nie rekenskap gee nie.

Maar, God staan nie verleë selfs teenoor ons ongehoorsame en soms verharde harte nie. Op ʼn vreemde, onverstaanbare wyse is selfs ons opstand iewers ingebed in die letters van die alfabet. Niks ontglip sy aandag nie. Hy is ons in alles voor.

Die gedagte van God se totale, omvattende en insluitende teenwoordigheid, word bevestig is die sinsnede, “die een wat is en was en kom”. Hy omsluit tyd. Hy is die sirkel van die horlosie. Die syfers tik daarbinne en binne sy toelatende wil. Hy is die Almagtige. So slaan die skrywer die spyker diep in. God word nie onkant gevang nie. Van die begin tot die einde, die “proton” na die “eskaton”, die skepping tot die wederkoms, die eerste en die laaste is Hy soewerein, onherhaalbaar en uniek.

Die gedagtes moet troos. Ons is ingesluit. Hy omvou ons, beskerm en versorg ons. My klein en onbeduidende bestaan en lewetjie geskied iewers tussen die eerste en die laaste woord wat oor hierdie bedeling gespreek word. Niks ontglip sy aandag nie. Hoe gouer ek oorgee, opgee en ingee hoe beter.

Ek kan nie, al dink ek, ek kan. Ek staan verleë, Hy moet my help.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.