ToekomsVenster: Hy is die Bron

(Foto: Maksym Kaharlytskyi/Unsplash)

So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word. Dan word die woestyn ‘n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ‘n bos aangesien word. – Jesaja 32:15

Die profeet Jesaja, diep bewus weereens van die onverskilligheid van die volk van die Here en die naderende oordeel, met name die Babiloniërs wat die volk gaan wegvoer van alles wat sin gee aan hulle bestaan gaan vernietig,  verklaar profeties dat daar ʼn dag kom waarin God met hierdie halsstarrige volk van Hom ʼn nuwe begin sal maak.

Dit wat nou droog en verwaarloos en hopeloos is, sal vernuwe word. Die woestyn sal in blom staan en waterstrome sal vloei.

Dit gee aan hom die moed om met sy taak voort te gaan en die volk terugskouend met God se genade bekend te stel. Hulle sal ʼn nuwe Eksodus beleef, hulle sal die beloofde land by vernuwing betrek. God is die God van die nuwe en dit staan op die punt om te gebeur.

Die profeet Joel sluit daarby aan as hy profeteer dat die Gees van God jonk en oud sal bemagtig en toerus. Die vernietigende werk van die vyand, simbolies die plae sprinkane wat tans alles vernietig,  sal opgehef word en die land sal herstel word. God sal daarvoor sorg.

Jesus sluit daarby aan as Hy sy dissipels maan om nie Jerusalem te verlaat en te probeer om met die werk voort te gaan alvorens die gawe van die Vader nie uitgestort is nie. Die Gees sal sy dissipels bemagtig en die hele bekende wêreld sal die Evangelie hoor.

Sonder die Gees se werking gaan ons die Covid-19-episode moeilik oorleef.

Wat ons nodig het is by Hom, Hy is daarvan die Bron.

Hy is die Gees van wysheid, waarheid, onderskeid en kennis. Hy is die Gees van troos, bemoediging en hulp. Hy is die Gees wat oortuig van sonde oordeel en geregtigheid. Hy is die Gees wat kinders van die Here in staat stel om te volhard. Hy is die Gees wat vrymaak van vreesagtigheid en angstigheid.

Hy is die Gees van God. Hy is God self. Hy gaan van die Vader en die Seun  uit. Hy beklee ons met die Here Jesus Christus. Hy bewerk en bring tot volheid die gawes wat God ons in Christus Jesus geskenk het.

Nie deur eie krag nie maar deur die krag van God, leer die Bybel ons.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Ek het geen brief, faks of email van God ontvang waar Hy my toestemming gee om namens Hom te praat nie. Ek dink ons as mense oorspeel ons hande. Ons is ongehoorsaam, halstarrig en onverskillig. Ek sou lankal vir die mens se doen en late moeg geraak het. Hy het die mens met die sondvloed “gestraf”. Ek dink Hy waarsku ons verganklike mense deur peste en pandemies toe te laat, in die hoop dat ons as mens ons optredes en dade sal verander. Ons moet baie vinnig by kom en ons voor Hom verootmoedig, pleit vir genade en vergifnis. Ons moet Hom behaag. Indien dit nie gebeur nie moet ons nie elke keer wanneer daar krisisse opduik ewe skielik ons tot Hom wend vir hulp nie. God is nie ons noodwiel nie. Hy is ook nie ons speelmaat nie. Hy is God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.