ToekomsVenster: Hy is die Christus

(Foto: Tamara Menzi/Unsplash.)

Johannes 1:19-21 – Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?” Toe het hy hierdie getuienis afgelê en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord.

My jong kollega preek verlede Sondag ʼn pragtige boodskap waarin hy die gemeente herinner dat hulle die woonplek van God is. Hy verwys na Johannes die Doper en die woorde “daar is die Lam van God” maak die res van die week woning in my hart. Derhalwe kuier ons hierdie week oor die optrede van Johannes die Doper reg aan die begin van Jesus se bediening.

Hy was ʼn interessante mens wat in die woestyn gewoon het. Sy voedsel was eenvoudig en sy leefwyse aards. Ek lei af dat Johannes nie sterk was op interpersoonlike verhoudinge nie. Hy het ʼn ding by die naam genoem en opspraak verwek. Juis daarom word ʼn afvaardiging van Jerusalem gestuur om na sy identiteit te verneem. Die vraag na identiteit word gestel. Wie is jy? Uiteraard word dit gevra omdat Johannes rimpelinge veroorsaak.

Hy tree soos ʼn profeet op en roep die mense tot bekering. Hy bedien ʼn doop aan mense wat reeds besny is. Hy roep die Godsvolk tot bekering op. Hy krap alles deurmekaar. Hy vertel kinders van Abraham dat hulle op weg is na ʼn ewige verderf. Hy stroop die verneer af en laat mense met die naakte waarheid. Vervalle en eensaam en verlore. Mense praat met mekaar oor sy vreemde optrede. Nuus daarvan bereik die geestelikes in Jerusalem. Hulle kan sulke voortvarendheid nie duld nie. Derhalwe nie vraag maar wie is jy.

Dit blyk dat sommige in Johannes die vervulling van die Messiasverwagting gesien het. Derhalwe bevestig hy nie minder as drie keer dat hy nie die Christus is nie. Duidelik, ondubbelsinnig en openlik staan daar: “Ek is nie die Christus nie”.

Daarmee is die saak van sy identiteit nie afgehandel nie. Is hy dan Elia? Sy optrede in die woestyn herinner aan Elia van die ou Testament. Hy ontken dit egter. “Die profeet?” Nee, ook nie dit nie.

“Maar wie is jy dan,” wil hulle weet? Ons moet ʼn antwoord gaan gee aan die mense wat ons gestuur het. Ons kan nie met ʼn mond vol tande terug na Jerusalem nie.

“Wie is jy, wat is jou antwoord?”  Hierdie identiteitsvraag is steeds relevant.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Amen, Here Jesus ons kort U in ons land en veral baoe nou met die rassime en haat wat aangaan. Die moorde en die duiwel wat alles probeer beheer! Amen Abba Vader!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.