ToekomsVenster: Dis asof die donker buite ʼn metafoor is van die donker binne


Aandster_Stiltetyd_See.jpg

Foto: en.wikipedia.org

Psalm 77:5 – U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos.

Ai, ek weet nie waarom ʼn mens ekstra broos is in die nag nie. Terwyl die son nog skyn, sien ʼn mens kans vir baie uitdagings en kan ʼn mens probleme die hoof bied. Maar as die nag eers kom! Skielik voel ʼn mens so bedreig. Dis asof die donker buite ʼn metafoor is van die donker binne.

Mens beleef dinge baie meer intens in die nag. Om dan nie te kan slaap nie is ʼn ontstellende ervaring. Jy kry jou gedagtes net nie gestil nie. Dit maal en maal en gaandeweg word die probleem al groter totdat dit jou uitgeput en moedeloos laat. Dis nogal ʼn gawe om by die punt te kom waar die digter op ʼn ander plek sê ek gaan nou rustig slaap.

Spreuke 3:24: Jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie; as jy gaan lê, sal jy rustig slaap.

Psalm 4:9: Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.

God is in die donker. Hy is in beheer. Jou onrustigheid bring jou niks nader aan ʼn oplossing nie. Dit dreineer jou net van noodsaaklike vermoë om perspektief te behou en wanneer die dag gebreek het besluite te neem en uit te voer. Geloofsvertroue is om oor te gee aan die Here, God van dag en God van nag. Altyd getrou en betroubaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.