ToekomsVenster: Hy is in volle beheer

boom-son-wolke-vryheid

Foto: Sanjeevan SatheesKumar/Unsplash.com

Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met ‘n ketting vasbind nie, want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe. – Lees Markus 5:1-20

Die vernietigende werk en invloed van die bose word hier grafies illustreer. Markus maak geen geheim daarvan dat Jesus Homself nie deur die bose geeste laat intimideer of laat afskrik nie. Soos in die woestyn tydens sy versoeking net nadat Jesus gedoop is, tree Hy ook hier in volle beheer oor die situasie op.

Die uitwerking van die inwonende bose geeste, is vernietigend, vernederend, mens onterend. Hoe dit gekom het dat hierdie arme man deur bose geeste beset is word nie vertel nie.

Ons moet versigtig wees dat ons nie so duiwel en bose gees bewus word dat ons ons fokus op Jesus verloor nie. Aan die anderkant moet ons met die werklikheid van die vernietigende werk van die bose rekening hou.

Die Bybel sê gee die duiwel geen vatkans nie. Hy werk subtiel en maak nie ʼn afspraak om mense te betrek nie.

Kinders van die Here hoef nie bekommerd te wees dat die duiwel in hulle sal woon en werk nie. Geen bose gees kan die tempel van God deel nie. Tog kan die duiwel die lewe vir kinders van die Here onaangenaam maak en doen hy dit inderdaad. Sonder om met Hom in gesprek te tree behoort ʼn mens doodgewoon soos die Skrif te sê: God sal jou straf. (Judas 1:9)

Die bose is aan die kruis, bevestig deur die oop graf, ontneem van sy krag en invloed in mense se lewens behalwe in die mate waarin hulle hom bewustelik of onbewustelik toestemming gee. Bly weg van verkeerd goed af. Moet met okkultiese bedrywighede geen kontak hê nie. Laat geen ander invloed in jou lewe toe behalwe God se Gees nie. Beskerm jouself deur geklee met die volle wapenrusting elke dag tegemoet te gaan.

Indien jy jouself iewers willens en wetens blootgestel het bely dit voor die Here, aanvaar sy vergiffenis en beweeg aan. Wees versigtig vir allerlei praktyke van bevryding. Dit kan ook skade doen.

Ons is nie gemaak vir die grafte nie. Ons is nie grafbewoners nie. Moenie toelaat dat die bose jou in die mate intimideer dat jy opgee op jou koninklike status voor God nie. Dis opmerklik dat selfs die bose Jesus om genade smeek.

Wat ʼn heerlike kontras. Hierdie verhaal begin met die ontstellende toneel wat Jesus begroet maar eindig met die vrede en harmonie wat net die Gees gee. Die man het sy menswaardigheid teruggekry.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Agie ·

Amen
Dankie Ds Pelser. So duidelik dat enigiemand dit kan verstaan. Soveel mense raak verstrik as gevolg van ondeurdagte optrede. Mag ons volkie betyds nog omdraai na JESUS.?

Jane ·

Elke more en aand is hierdie boodskappe vir my oneindig van waarde. Dit help my om my Bybelstudie te versterk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.