ToekomsVenster: Hy is kragtig

Foto: Unsplash.com

Ons word almal meermale met omstandighede gekonfronteer wat bokant ons vermoë is om te hanteer. Ek het die gevoel dat dit ons daaglikse konteks in Suid-Afrika is. Ons voel meer dikwels soos vreemdelinge en bywoners. Die tydsgewrig waarin ons leef vra ontsettend baie van ons en om die handdoek in te gooi is nie ʼn keuse nie.

Ons het groenkoring op die land en ʼn ander heenkome is almal nie beskore nie. Dit is in elk geval die meeste Suid-Afrikaners se konteks. Ons uitdagings lyk anders maar die gevaar van moedeloosheid is nie denkbeeldig en teoreties nie.

Menslik gesproke kan sake soos armoede, werkloosheid, kriminaliteit in sy vele gestaltes, vooroordeel, politieke opportunisme en sekularisasie nie met menslike wysheid alleen opgelos word nie. Trouens, dit is menslike toedoen wat ons hier gebring het. Ons het nodig om van God te hoor en dringend ook. Ons het inderdaad sy openbaring in sy Woord maar ʼn eietydse interpretasie daarvan ontgaan ons steeds. Ons het die krag van God nodig, die “kragtige werking van sy mag wat Jesus uit die dood laat opstaan het” (Efesiërs. 1:19-21).

Sal die Here ons nie in die tyd waarin ons lewe deur die opstandingskrag van Jesus nuwe lewe laat vind nie?

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. – Jesaja 43:19

Moenie net by die ou dinge stilstaan nie.

Dink saam met my na oor hierdie bekende lied.

Maak oop die poorte deure wyd
Die Koning kom in heerlikheid.
Oorwinnend kom Hy aangery.
Met klere voor Hom oopgesprei
Die Heerser van die hemelryk
Is ook ons Heiland tegelyk
Ons gee die Koning eer
Ons loof U naam o Heer
( Liedboek van die NGK)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jeanne Coetzee ·

Ek dien ‘n Awesome GOD. Wie anders kan in al my behoeftes voorsien soos U.
Dankie ABBA VADER. Ek loof en prys U NAAM.
Dankie vir al U Seëninge wat U daagliks oor my lewe uitstort.
Amen, Amen, Amen

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.