ToekomsVenster: Hy is liefde

liefde-hart-strand-sonsondergangs-voetspore

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die Here is ver van die goddeloses af, maar Hy hoor die gebed van die regverdiges. – Spreuke 15:29

Twee begrippe in hierdie Spreuke vers is baie belangrik. Goddeloos en regverdig. Goddeloos vanweë dit wat die mens doen en gedoen het. Regverdig vanweë dit wat God doen en gedoen het.

Die negatiewe is volledig vanuit die mens, God kan nie daarvoor verwyt word nie. Die positiewe is volledig uit God. Die mens kan daarvoor nie die eer of erkenning neem nie.

Buite Christus is ons almal goddeloos. Die term is nie net ʼn aanduiding van die aard en manier van lewe nie maar ook van die Godloosheid van so ʼn mens se bestaan. God word nie erken en verwelkom in daardie lewe nie. Goddeloosheid loop uit op die dood. Die teks sê immers almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid ban God. Die genadegawe is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Regverdigmaking is ʼn gawe van God deur die Heilige Gees. Dis is statusvernuwing. Vroeër was ons almal sondaars, getuig Paulus. Ons het gedoen net waartoe ons verlei was. Ons het sonder toestand toegegee aan die verkeerde en God onterend geleef.

Ons verskil van mekaar en sommige van ons is ʼn rowwe en onverantwoordelike lewe gespaar. Ander het langs ver paaie gestap, hul Christelike opvoeding ten spyt. Ander het doodgewoon net nooit die geleentheid gehad om in so ʼn omgewing waar ouers die Here dien, groot te word nie.

Die heidendom is ʼn groter wordende werklikheid. In die omgang met mense ervaar ek as predikant toenemend dat mense van die Here, sy Woord en bedoeling niks weet nie. Dit selfs in Suid Afrika wat daaroor spog dat dit ʼn Christen nasie is. Vir baie is Christenskap eerder ʼn aanbeveling vir persoonlike sukses as erns van die hart.

God is ver van goddeloses af, sê die teks. Dit is ʼn gekwalifiseerde waarheid. Konsekwente onverskilligheid mag die Here op die agtergrond wentel nie vanweë sy keuse en ingesteldheid nie maar vanweë die mens s`n. God is ver omdat die mens homself van God vervreem. Die mens loop al hoe verder van die Here af weg eerder as dat die Here dit doen.

Niks kan verander aan God se grondhouding nie. Hy is liefde. Hy wil ook nie dat enige mens verlore gaan nie maar dat alle mense gered sal word. Hy is ʼn goeie, genadige, barmhartige en lankmoedige Wese.

Die uitnodiging aan alle goddeloses bly steeds : Kom en laat ons die saak met mekaar uitmaak se die here. Vandag as julle sy stem hoor verhard nie julle harte nie. Soek die Here terwyl Hy te vinde is.

Regverdige mense is mense wat God se vergiffenis dankbaar omarm en van daaruit lewe. Hulle sing met oortuiging “I once was blind but now I see”. Ek wat vergiffenis ontvang het sing dankbaar my verlossingslied.

“Die grootste ding wat enigiemand vir God of sy medemens kan doen, is gebed.” ~ S.D. Gordon

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.