ToekomsVenster: Hy is ’n ware Vader vir ons

(Foto: Juanita Badenhorst)

“Nadat Hy hulle laat gaan, het, het Hy die berg op gegaan om te bid.” – Markus 6:46 (AFR83)

Ons gesels hierdie week oor gebed. Gebed is onverhandelbaar deel van ʼn gelowige se lewe. Die “dat” van gebed is onontbeerlik, die “hoe” is ʼn persoonlike saak. Ons verhouding met die Here is eg persoonlik en ander kan nie daaroor oordeel nie.

Dit is daarom onaanvaarbaar dat gelowiges mekaar weeg en te lig bevind wanneer dit by geestelike aangeleenthede kom. Die hart is ʼn privaat ruimte en wat daar gebeur is dikwels intens en intiem. Ongelukkig gebeur dit dat mense, dalk welmenend, ander oordeel en beoordeel.

Selfs Jesus doen dit nie!

Ek vind nêrens vingerwysing en teregwysing by Hom wanneer mense eg na Hom soek nie.

Terug by die “Onse Vader”-gebed. “In die stilte van jou binnekamer,” sê Jesus.

“Waar niemand sien nie en daar nie roem en erkenning is nie.”

Dit beteken hoegenaamd nie dat daar nie ruimte is vir openbare of publieke gebede nie, inteendeel. Om met ander saam te bid is ʼn voorreg en wonderlike geleenthede. Immers, die Bybel sê, in Matteus 18:19-20:

“Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

“Ons Vader”, so begin die gebed wat Jesus sy dissipels leer.

Wanneer ʼn mens aan ʼn pa dink, dink jy aan iemand wat omgee, sorg, liefhet, aanvaar (sonder om foute sondermeer oor te sien!), saam speel, dink en gesels.

Jy dink aan iemand wat sterker is as jy (dink aan ʼn kind by sy pa).

As kind het ek geglo my pa kan alles doen. Hy beskerm en dra my belange op die hart. Hy werk baie hard om vir my te voorsien, trouens, hy sal homself sekere dinge ontsê, sodat ek kan kry wat ek graag wil hê.

In oordragtelike sin is dit ook die gesindheid van ons hemelse Vader. In Christus is Jesus inderdaad opofferend betrokke by die lewens van mense, die kruishout is tog daarvan ʼn klinkklare bewys.

Praat met God en noem Hom met die grootste vrymoedigheid Vader. Hierdie is nie ʼn uitnodiging dat ons van mekaar sal verskil oor wat God se naam dan nou eintlik is nie. Hy sê, Vader, ek en jy mag dit ook sê.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.