ToekomsVenster: Hy is nog altyd daar

reenboog-veld-stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond. – Psalms 73:1-4

Drie beginsels sover hierdie week. Die Bybel vertel ons van geloofshelde se twyfel, ons is dus nie die uitsondering op die reël as ons vrae vra nie. Moenie jou geloofsvertroue op die wankelrige fondasie van omstandighede bou nie, bou op God se persoon en karakter. Derdens, neem jou twyfelvrae na Jesus toe, dit gaan immers oor Hom.

Dit is so dat omstandighede ons kan oorweldig en al wat ons raaksien is ons eie ongemak en sukkel. Ons vergeet van die Here se betrokkenheid by ons lewens sedert die eerste asemteug. Wanneer ons daaroor nadink moet ons toegee dat God se goedheid die stukkie ongemak wat ons tans beleef ver oorskadu. Die getuienis is oorweldigend en kan nie weerspreek word nie.

Die digter vertel van sy eerlike twyfel. (Ps.73:2,3)

Dit lyk dan vir hom asof Godloënaars gelukkig lewe. Hulle kry nie swaar soos die digter nie. Wat sy worsteling nog groter maak is die feit dat hy die Here van kindsbeen af volg. Dit lyk asof daar geen waardering is vir sy nougesette navolging van God nie. Ongelowige en selfbehepte mense eien hulle soveel dinge toe wat die digter vanweë sy opregte vroomheid nie eers sal oorweeg nie. Die som tel nie op nie. Waar is die regverdigheid dan?

Waarom is daar so ʼn diskrepansie tussen dit wat hy belê en dit wat hy by wyse van spreke uitkry?

Die belegging van geloofsvertroue maak nie sin nie. Hy oorweeg om op te gee. Dit is darem baie swaar om ʼn kind van God te wees, kla hy. Die kool is die sous dalk nie werd nie.

Die laaste verse bring ʼn kentering in die digter se nadenke. Hy maak weer ʼn ommeswaai en beleef God se helende, vertroostende en bemoedigende teenwoordigheid. (Ps.73:16,17)

Hy vind genesing vir sy deurmekaar gemoed. Hy besef dat omstandighede ten spyt, daar iets is wat godloënaars nooit sal belewe nie.

Hulle mag in aardse terme vervuld wees maar, geestelik is en bly hulle leeg. Boonop hou die toekoms vir hulle onheil en straf in.

Die digter bekeer hom weer tot die Here en bely sy opstand. “Soos ʼn redelose dier het ek my gedra”, bely hy. “U is nog altyd by my en aan die einde sal U my in U heilige teenwoordigheid laat deel”. (Ps.73:21,22)

Dink bietjie terug oor jou lewe en sien die merktekens van God se seën en voorsiening in jou lewe raak.

Hy is nog altyd daar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here vir soveel seeninge wat ek onverdiend ontvang…Amen