ToekomsVenster: Hy is ook nou daar by jou

Foto: Aaron Burden/Unsplash

“My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.” – Psalms 22:2-3

Paasfees is nog vars in die geheue. Paasfees herinner ons aan die besondere offer wat Jesus aan die kruis van Golgota gebring het sodat ons in vrede met God mag leef.

Jesus het gesterf, sodat ons kan leef. Mag ek dit herhaal, Jesus het gesterf, sodat ons kan leef, hier en nou kan leef, voluit kan leef, betekenisvol en vervuld kan leef, kleurvol en verbeeldingryk kan leef.

Jesus het gesê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe”. Jesus is ʼn uitnodiging tot die lewe. Dis tragies as ʼn mens voortgaan met ʼn doodsbestaan terwyl die geheim van die lewe reeds voor ons uitgespeel het gedurende die Paasgebeure.

Jesus het gesterf, maar Hy het ook opgestaan. Eersdaags sal ons Hemelvaart en daarna die uitstorting van die Heilige Gees vier.

Alles wat nodig was vir ons redding is volmaak afgehandel. Daar skort niks nie. Die prys is betaal en aanvaar. Die leë graf is daar ter bevestiging.

Psalm 22 word tradisioneel ook op die lydende kneg van die Here betrek. As jy lees sal jy sien hoe merkwaardig daardie ooreenkomste is tussen die lyding en die swaarkry van die Psalmdigter en die van ons Here.

My kollega preek oor hierdie teks en die volgende woorde tref my. “Die swaarkry van Jesus, die lyding van Jesus, die Seun van die lewende God, gee aan ons die woorde waarmee ons ons eie swaarkry en lyding kan verwoord.

Die feit dat Jesus betaal het beteken nie dat ons nie op aarde uitdagings in die oë sal moet staar nie.

Somtyds is dit hartseer uitdagings wat trane in die oë bring. Somtyds dreig die uitdagings om jou in stukkies te breek en wil jy soos die lydende kneg van die Here uitroep: “My God, my God waarom het u my verlaat!”.

Dalk het jy al omstandighede beleef waar jy dieselfde woorde gesê het.

Toe Jesus gevra het waarom God hom verlaat het, Sy vader sy rug op hom gedraai het, Hom in sy uur van nood alleen gelaat het, het daar nie ʼn antwoord van die hemel gekom nie.

Die stilte van die oomblik is deurbreek met die jillende skare wat hom bespot en verneder het.

Jesus was volledig van sy Vader verlate gewees. Dit was ʼn egte ervaring wat bitter moeilik moes wees om te beleef.

God van God verlate, wie kan dit ooit verklaar, wie kan dit ooit verstaan?

Dit gaan ʼn mens se begrip te bowe.

Wanneer ek en jy in ons swaarkry dieselfde woorde op ons lippe neem, waarom het U my verlaat, kom die Heilige Gees om ons te oortuig dat God in Christus Jesus, Emmanuel, God met ons is.

Niks en niemand kan ons van die liefde van God skei nie.

Jesus was van God verlate sodat ons in ons uur van nood, selfs al voel ons anders, kan weet dat God nader is as ons eie asemteug.

Dis juis die teenwoordigheid van God en die beloftes van sy Woord, wat aan ons die moed gee om altyd weer en weer op te staan en die lewe aan te durf.

“Ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie”. Jesus sê, nooit.

Hy is ook nou daar by jou, te midde van jou nood, swaarkry, verleentheid en hartseer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.