ToekomsVenster: Hy lewe

(Foto: Jorge Vasconez/Unsplash)

Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. – Hebr.2:14-15

Ons het al by ʼn  vorige geleentheid by hierdie verse stil gestaan maar ek doen dit graag weer, Jesus se volle en volledige identifikasie met ons as mense.

Hy het nie vanuit die hoogte en op ʼn  afstand opdragte gegee nie maar proefondervindelik kom illustreer wat Hy bedoel.

Hy het gevoel wat jy voel, gewonder, geworstel, selfs getreur oor die dinge wat deel van jou, ja ons leefwêreld is.

Somtyds ontmoet  ʼn  mens iemand van aansien en staan dan verbaas dat daardie persoon so gewoon, onopgesmuk, eg menslik kan wees. Jy verwag ʼn  afstandelikheid, meerderwaardigheid en hoogmoedigheid. Doodgewone mense, mense soos ek en jy vertel jy na die tyd wanneer jy ander van jou ervaring vertel.

Ja, dit is lekker om met sulke mense om te gaan en hulle dwing respek by ʼn  mens af.

Jesus het nie enige vertonerigheid aan hom gehad nie.

Hy kom nie met ʼn  septer nie maar met ʼn staf. Hy dwing nie maar trek nader. Hy skryf nie voor nie maar leef dit. Hy deel nie skrobberings nie maar ontmoet mense waar hulle is. Hy spreek hul verse, uitdagings en teleurstelling aan deur die wyse waarop Hy onder hulle lewe. Hy weet ook dat die dood mense in slawerny en vrees laat lewe. Hy bevry die mens van daardie vrees. Hy oorwin die dood. Die graf is leeg. Dood, waar is jou angel, inderdaad. Dood, waar is jou oorwinning, inderdaad. Die angel is verwyder, die verskrikking is afgeweer, Jesus triomfeer oor die dood.

Hy lewe. Die wat in Hom geglo en vertrek het lewe.

Ek en jy wat glo sal lewe. Nou en in ewigheid.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.