ToekomsVenster: Hy nooi almal uit om daaraan deel

kersliggies-teeliggies

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

… laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. – Matteus 6:10

Ons gesels oor die begrip “koninkryk”.

Waaroor dit vir jou ten diepste gaan, word duidelik in jou “nooienstoespraak”. Dis daar waar jy jou verstaan van jouself, ander, jou missie en visie, gerigtheid en bedoeling onder woorde bring.

Jesus maak dit baie duidelik wat sy optrede op aarde behels … die koninkryk van sy Vader waarvan Hy die sleutels hou. Hy sluit oop en toe.

Hy nooi almal uit om daaraan deel te kry, maar wie nie die uitnodiging aanvaar nie, is reeds uitgesluit.

Sy bedoeling is tog baie duidelik. Dis sy begeerte dat elkeen wat van die hemelse koninkryk hoor, ingesluit sal wees. Toegang tot sy Vader se ryk het egter ʼn baie hoë premie: heiligheid, reinheid en sondeloosheid.

Uiteraard is almal wat ooit geleef het, benewens Hyself, daarvan uitgesluit omdat almal in Adam verlore is.

Jesus kom juis na die aarde om die “kortsluiting” uit die weg te ruim. Hy betaal die prys van en vir die hoogverraad en rebellie (die wese van sonde) en, soos die gordyn wat skeur tussen die heilige en allerheiligste gedeeltes van die tempel, word sy kruisdood, bevestig deur die opstanding, die sleutel wat weer toegang verleen.

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” – Matteus 4:17

Onthou die nasionale gebedsinisiatief:

25 Mei (Hemelvaart) en die tien dae van Pinkster (tot 4 Junie)

Bid by jou werk, besigheid, kantoor, klaskamer, lesinglokaal, inkopiesentrum, gimnasium.

Bid alleen en saam met mense (veral onbekendes).

Bid dat Suid-Afrika genees mag word.

www.sapray.co.za of laai die Toekomsvenster-app af.

Registreer as gebedsvennoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.