ToekomsVenster: Hy nooi my in sy teenwoordigheid in


loop-saam-met-God

Foto: Theworddetective.wordpress.com

Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here?  Wie mag op U heilige berg vertoef? – Psalm 15: 1

Sjoe, die Psalm begin met ʼn ontnugterende vraag.  “Wie het die reg om in U woonplek te kom en op U heilige berg te vertoef?”

As die besonderhede van hierdie vraag verder uitgewerk word voel ʼn mens jouself al hoe meer onwaardig.

  • Onberispelik in handel en wandel (vers2)
  • Absolute interne en eksterne waarheid (vers 2)
  • Geen kwaad in sy of haar hart nie dus
  • Totale versoenlikheid onder alle omstandighede (vers 3)

Ek is gediskwalifiseer om God se nabyheid te beleef as ek myself aan hierdie standaarde meet.  In baie opsigte onderskei ek myself in juis die teenoorgestelde.

My onmag en onvermoë word nêrens meer onderstreep as in my interpersoonlike verhoudinge nie.  Daar loop dinge somtyds erg skeef.  Daar raak ek die spoor byster.  Soos die ontnugterde Paulus roep ek uit… wee my… ek, ellendige sondaar, wie sal my dan red?

God dank dat hierdie hoë roeping, standaard en optrede namens my bereik is.  Die Seun van God het my eie onvermoë in Sy sterwe opgeneem en Sy lewe my laat toekom.  Ek kan nie maar Hy kan. Christus in my, die hoop op heerlikheid. (Kol 1:27)

Christus in my is die kwalifikasie om juis met die Allerheiligste gemeenskap te mag beoefen.  Intimiteit met die drie-enige God, nie omdat ek nie maar omdat Hy.

Hy nooi my in sy teenwoordigheid in op grond van Sy goedheid en genade, Sy guns en liefde, Sy verdienste en prestasie, Sy omgee en persoon.  Die Evangelie is inderdaad Goeie Nuus.

Ek was verlore maar deur Sy bloed is daar nou vrede in my gemoed.  God wink, kom kuier by Hom.  Ononderbroke intimiteit, saam met Vader, Coram Deo, omdat Hy dit moontlik maak.

  • Besoek die ToekomsVenster-inisiatief se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.