ToekomsVenster: Hy sagmoedig, liefdevol en lankmoedig

(Foto: Tim Marshall/Unsplash.)

Jes. 42:1-3 – Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak. Hy sal nie roep nie, hy sal nie hard skree nie, hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. ‘n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ‘n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is.

Die Joodse volk, selfs by monde van die dissipels, was ongelukkig met die Messias Koning wat God gestuur het. Aan die vooraand van Jesus se hemelvaart is dit die vraag op die dissipels se lippe “gaan U nou die Koninkryk van Israel oprig”?

Dit is eg menslik, ons oë op die hier en die nou, die sigbare, die voor die hand liggende en die onmiddellike. Ons onderskeidingsvermoë, geestelik gesproke word inhibeer vanwee ons gerigtheid op die voorhande problematiek.

God se perspektief is egter anders, dit is omvattend, insluitend, gerig op die koms van sy ewige koningkryk in krag en heerlikheid.

Aardse konings, gesagsfigure en leiers is dikwels heersagtig en brutaal. Mense word teen wil en dank onderwerp en wie nie wil buig nie, bars.

Jes. 42 herinner ons aan sulke leiers. Invloed eerder as integriteit, eiebelang eerder as diens, eersugtigheid eerder as deernis, inpalm eerder as deel en uitdeel. Jesus gee aanstoot want, Hy verteenwoordig die lig in ʼn wêreld wat deur duisternis gekenmerk word. Jesus is anders, radikaal ja,  maar nie opruiend en dwingerig nie. Jesus is nederig, soos ʼn Lam wat ter slagting gelei word.

Wanneer ʼn mens Jes. 53 lees word mens verras deur God se manier van dinge doen. In vers 3 lees ons: Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. En in vers 4 lees ons ook:  Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.

Ek moet erken dat ek veral in ʼn tyd soos hierdie wil hê dat God in Christus Jesus Hom soos ʼn wêreldheerser gedra. Ek wil hê Hy moet tussenbeide tree, die ongeregtigheid straf, die boewe in die tronk gooi. Ek wil hê Hy moet geen genade bewys aan kindermolesteerders, vroue verkragters, geweldenaars, korruptes en sondaars nie.

Die gevaar is natuurlik groot dat sou God so optree, ook ek nie staande sal bly nie. Die verkeerde is in my DNs en soos Paulus vra ek wat ek moet doen om van hierdie sondige geaardheid ontslae te raak?

Nee, God weet wat Hy doen.

Dis genade dat Hy nie is soos ons Hom wil maak nie. Ek is so dankbaar dat Hy sagmoedig, liefdevol en lankmoedig is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.