ToekomsVenster: Hy weet alles

(Foto: Glen Jackson/Unsplash)

Die Here ken die gedagtes van die mens, Hy weet dit beteken niks. – Ps. 94:11

Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?” – Matt. 9:4

Ons gesels hierdie week ’n bietjie oor gedagtes en hoe negatiewe gedagtes, eintlik niks anders as ongeloof nie, ons lewens beïnvloed. Miskien kan jy gister se interessante waarneming onthou – 97% van wat die negatiewe gedagtes wat ons dink is sonder substansie en gebeur eintlik nooit nie. Dit het ’n pessimistiese lewensuitkyk as basis.

Dit is so dat sommige persoonlikheidstipes emosioneel anders aanmekaargesit is en dinge meer intens ervaar. Mens moet net nie kamp opslaan by jou negatiewe gedagtes nie. Daar is inderdaad baie in die lewe waaroor ’n mens kan juig.

Ons teksgedeelte ontbloot ons voor ons groot God. Hy weet alles. Uiteraard oordeel en beoordeel die Here anders wanneer dit by sy kinders kom, trouens, daar is nie sprake van oordeel nie omdat Jesus reeds die las gedra en vir sonde versoening gedoen het. Wanneer God na ons kyk sien Hy volmaakte mense, geregverdig deur die bloed van sy Seun, ja, heilig en onberispelik. Dit is eintlik te groot vir die mense se verstand.

Dan weer ken ons onsself en weet ons dat alles genade, onverdiende guns is. Ons is op en in onsself tot hoegenaamd niks betekenisvol in staat nie en as Hy ons nie rig en onderrig nie, kom ons bedroë daarvan af.

Wêreldlinge staan egter volledig ontbloot voor Hom en het geen verskoning nie. Hul goddelose lewensuitkyk sal uiteindelik boemerang en dit is ’n senutergende gedagte.

Mag ons hoe langer, hoe meer, deur die Gees van die Here beheers word, dink soos Hy dink en Hom verheerlik in ons dien en late.

1 Kor. 3:20 – en op ‘n ander plek: “Die Here ken die gedagtes van die

wyse mense en weet dit beteken niks.”

Ps. 139:2 – Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U is die Kenner van elke gedagte…..ek kom belei my gedagtes is dikwels deurspek van ongeloof …van stille verwyt………help my om deur U oe te kyk…..in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.