ToekomsVenster: In die huis van God

Olyfboom_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.com)

“Maar ek staan sterk soos ʼn welige olyfboom; ek is in die huis van God en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg.” – Psalms 52:10-11

Ook hier vind ons ʼn voorbeeld van die veelvuldige maniere waarop die Skrif van metafore en beelde gebruik maak. Beide die welige olyfboom asook die huis van God is metafore. In die huis van die Here, ou Testamentiese verwysend na die tempel en nuwe Testamentiese kinders van die Here wat deur die Heilige Gees bewoon word.

Efesiërs gebruik eweneens ʼn metafoor waarmee die lesers, wat gewoond was aan Romeinse soldate wat behoorlik uitgerus is, kon identifiseer. Die wapenrusting van God is ʼn bekende gedeelte in die Bybel en duisende gelowiges vind aansluiting by daardie metafoor. Ook daar is daar sprake daarvan dat ʼn gelowige sterk staan te midde van die stryd.

Wanneer die stryd verby is, is die persoon steeds op sy pos doodgewoon omdat hy geleer het om in die krag van die Heilige Gees te leef en te oorwin.

Om welig te vertoon in ʼn uitdagende en dikwels uitputtende wêreld, is nie maklik nie. Niemand, ook nie die Bybel nie, beloof dat die stryd sommer so-so gestry sal word nie. Paulus roep die gemeente van Korinte op om standvastig en volhardend tot die einde te volhard. (Lees gerus Matteus 24:13)

Trouens die Bybel sê “wie tot die einde volhard,” sal gered word. Op ʼn ander plek dat volharding nodig is om die wil van God te doen.

Die winde waai sterk in hierdie dae, ook winde van verandering. Die wêreld waarin baie van ons grootgeword het, is deel van die geskiedenis. Die speelveld het radikaal verander en mense saam met wie ons nie grootgeword het nie, is rolspelers. Meer dikwels maak hulle reëls en reëlings wat nie net vreemd is nie, maar ook nie inpas by ons verstaan van die wêreld nie.

Die kultuur van ons dae is onverskillig, traak-my-agtig en doodgewoon slordig. Wie nie saamreis nie kan homself maklik op die kant van die veld bevind, lankal nie meer deel van die span nie.

Hoe oorleef ʼn mens in so ʼn stukkende wêreld?

Net deur geanker te wees en te bly in die woorde en genade van die Here. Die metafoor “huis van die Here” beskryf ʼn lewe van gemeenskap met die lewende God.

Mag jy die teenwoordigheid van sy Gees beleef. Mag jy sterk staan soos ʼn welige olyfboom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.