ToekomsVenster: In die lente

(Foto: Nitish Meena/Unsplash.)

In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik uittrek om oorlog te maak, het Joab die leër uitgelei en die land van die Ammoniete verwoes. – 1 Kronieke 20:1

Ek vind dit ʼn interessante opmerking in die Skrif. Lente was die tyd dat die konings uitgetrek het om te gaan oorlog maak.

Weersomstandighede in die winter was waarskynlik ongunstig en strategies onverdedigbaar. In die winter maak jy nie oorlog nie.

In die somer is die hitte in daardie deel van die wêreld onverskrokke en dit mag dalk verduidelik waarom somer nie die ideale tyd was om oorlog te maak nie.

Die lente daarenteen bring ʼn gevoel van lewe, energie, waagmoed en dapperheid. Jy voel dat jy berge kan versit, dat jy die onmoontlike kan regkry, dat die lewe mooi en die moeite werd is.

In die lente is jy meer weerbaar, voorbereid en bereidwillig om opofferend die oorlog tegemoet te gaan. Dalk is die wintermaande gebruik vir voorbereiding sodat wanneer die lente aanbreek alles in plek is vir die groot gevegte wat sou volg.

In oordragtelike sin en gedagtig aan ons as gelowiges wonder ek of die lente nie ook vir ons soos vir die konings ʼn  bietjie waagmoed, geloofsmoed wil bring nie?

Dalk is lente die tyd dat ons ons vyande in die oë moet kyk en daarmee bedoel ek uiteraard nie ander mense nie. Die vyande waarna ek verwys is die wat my eie geloofsvertroue ondermyn en dreig om my van God te vervreem. Daaronder ondankbaarheid, onvergewensgesindheid, onvergenoegdheid en so kan ʼn  mens aangaan.

Lente is met ons. Wat ʼn  heerlike tyd om te beleef. Dit is ʼn voorreg om te sien, ruik, hoor en ervaar wat die lente as geskenk bring.

Hoe lyk dit met ʼn bietjie geestelike oorlogvoering? Tot die tande gewapen met die wapenrusting waarvan Efesiërs 6 praat.

“Genoeg is genoeg” sê jy vir jouself en vir die vyand. Nie nog ʼn seisoen van swaarkry nie. Ek gaan hierdie lente met jou afreken, in Jesus se Naam.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir elke nuwe dag, elke nuwe geleentheid, aan U die dank lof en eer…Amen

madels ·

Kosbare gedeelte.. mag die Here ons krag gee om ons vyande te verslaan soos hier geskrywe staan. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.