ToekomsVenster: In diens van die Here

(Foto: Cristofer Jeschke/Unsplash)

Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie. – 1 Korintiërs 15:58

Paulus in die voorafgaande gedeelte bevestig dat die dood nie langer ʼn  houvas op gelowiges het nie. Die slawejuk van die sonde is verbrysel, die hemel is oop en die pad is voorberei. Die vrees en houvas wat die sonde op mense gehad het, is deurbreek.

Die duiwel kan ons nie langer in vrees gevange hou nie.

Jesus se opstanding is daarvan ʼn klinkklare bewys. Die dood is oorwin, die oorwinning is behaal. God het dit in Christus Jesus gedoen.

In die lig van hierdie merkwaardige waarheid roep Paulus die gemeente op om voortaan op ʼn besondere manier te lewe. Standvastig, onwankelbaar, oorvloedig in die werk van die Here, in die wete dat geen opoffering ter wille van die Koninkryk tevergeefs is nie.

Vir meeste van ons lê opgee sommer net onder die vel se oppervlakte. Die geringste weerspannigheid, of ons bevraagteken die Here, ons twyfel aan sy goedheid en ons raak kwaad vir Hom.

Om op ʼn eerlike wyse met God te worstel, is deel van die geloofslewe. Daar kom tye dat die stryd so moeilik raak dat jy in ʼn ernstige gesprek met God tree. Hy verwelkom dit dat ons baie eerlik is met Hom.

Ongelukkig egter is die meeste van ons se uithou en aanhou, van korte duur.

Dit hoort nie so nie.

Immers, die graf is leeg, Jesus het opgestaan, die oorwinning is behaal, die dood is oorwin. Juis daarom kan ons volhardend voortstu ongeag die uitdagings wat op ons pad kom.

Luister weer saam met my na die teks: onwankelbaar, standvastig, oorvloedig, omdat ons weet dat die kroon van die lewe op dié wag wat die stryd tot die einde gevoer het. Die oë gevestig op die Jesus, die begin en die voleinder van die geloof.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.