ToekomsVenster: In God se diens

hoop-geel-blom-oop-hande

(Foto: Lina Trochez/Unsplash)

Ek sê weer: die owerhede staan in God se diens. Hy verwag van hulle om te sorg dat wet en orde gehandhaaf word. Julle betaal belasting sodat daar goeie orde in die samelewing kan wees. Dit is die owerhede as dienaars van God se plig om hierdie belasting reg aan te wend. – Romeine 13:4 en 6

My hart breek wanneer ek lees van die jong onderwyser van Warden, wat een van drie slagoffers was wat hul lewens as gevolg van slaggate verloor het op die R103-pad. Sy skoolhoof getuig van die merkwaardige impak wat hy in die lewens van kinders gehad het.

Ek kom in opstand wanneer ek hoor dat dit nie die eerste lewensverlies is wat op daardie pad voorgekom het nie. Pleidooie val op dowe ore.

Ek wonder of daar iemand is wat luister wat verbonde is aan ’n plaaslike munisipaliteit of departement en wat in eie omgewing erns kan maak met hierdie saak.

Jy vra wat het dit met die Evangelie te doen?Alles!

Is daar iets waarvoor jy, jou kantoor, departement, organisasie of groep verantwoordelik is, wat deur moedswilligheid, luiheid en onverskilligheid agterwee bly en die potensiaal het om ander mense se lewens dramaties en onomkeerbaar te ontwrig? Doen doodgewoon waarvoor jy betaal, gemandateer, bemagtig en aangestel is.

Wat van jou stem as ’n geaffekteerde? Het jy al die stukkende pad in jou omgewing by die relevante owerheid aangemeld? Weet hulle daarvan?

Het jy mense in jou omgewing bewus gemaak van die gevaarlike situasie? Het jy al ’n brief of ses geskryf en dit aan verantwoordelike persone gerig ten einde die saak op die tafel te hou?

Ten einde laaste, het jy, desnoods saam met ’n paar van jou bure en onder veilige omstandighede, die kruiwa na die stukkende pad gestoot om dit te vul?

Ek lees ’n pragtige brief raak in ’n oggendkoerant van hoe ’n slaggat verantwoordelik, vernuftig en effektief reggemaak kan word. Daar is maniere.

Ons is die hande en voete van Jesus. Wat sou Hy gedoen het?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here ek is dankbaar om te sien dat daar in baie dorpe juis dit gebeur…mense is moedeloos gepleit en gesoebat…hulle tree nou self op…seen so elkeen wat hulle hand uit hulle moue steek..in Jesus Naam

Stof ·

Op Vader se beloftes kan ons hoop. Hy is getrou, Hy bewys dit veelvuldige male, elke dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.