ToekomsVenster: In mense ʼn welbehae


Kersfees-liggies

Foto: Monicore/Pixabay.com

Lukas 2:14 – “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het!”

Ons leef in stormagtige tye, dis gewis. Hierdie Kerstyd se vredesboodskap voel ver verwyder van die praktyk van elke dag.

Die Kersboodskap praat van vrede. Ons wêreld verkeer in konflik.

Dit getuig van liefde. Vooroordeel, agterdog en vrees kom voor.

Dit getuig van diensbaarheid en prysgawe. Selfsug en eie belang is opsigtelik.

Natuurlik veralgemeen ek. Daar is wonderlike voorbeelde van die teendeel ook.

God het nie sy Seun na die wêreld gestuur om dit te veroordeel nie, maar dat dit gered kan word.

Johannes 3:17 – Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Soveel mense het ʼn drogbeeld van God. Hy is die outokraat, pretbederwer, gerig op straf en foutvinderig.

By Hom is daar geen begrip nie. Dis reg of verkeerd, dis reg of weg. Vreeslik is dit om te val in die hande van ʼn lewende God.

Ja, die Bybel sê dit inderdaad, maar die boodskap is nie dat God onversoenlik, wreed en ongenaakbaar is nie. Inteendeel. Wie sulke liefde, aanvaarding, omgee, lankmoedigheid, deernis, sorg, ensovoorts egter willens en wetens van die hand wys, sal met die keersy van God te make kry. Maar dis nie hoe Hy mense in die eerste plek tegemoet tree in hierdie wêreld nie.

Jesus is ʼn tasbare voorbeeld van God se bedoeling.

Die baba in die krip lok ons nader soos alle babas doen. Babas word mos vasgehou, vertroetel en bewonder. ʼn Mens kom naby aan babas. Jy voel nie bedreig, op ʼn afstand of vreemd by babas nie.

God is nie ʼn baba nie, natuurlik nie. Maar as Hy Homself in die volheid van die tyd aan ons openbaar, is dit in die gestalte van ʼn baba.

Nie magsvertoon, oorlogsgeweld en omverwerping van orde nie.

Nee, toegeneentheid, omgee, warmte, vriendelikheid en sorg.

Wat is jou persepsie van God?

Hy is nie vir jou kwaad nie.

Hy haat die sonde, want dit ontneem jou van die lewe, potensiaal en laat jou huil, maar Hy het jou oneindig lief.

Hy wil deel met die sonde en het dit inderdaad gedoen. Hy wil jou omarm en vashou en versorg.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.