ToekomsVenster: In Sy teenwoordig

Foto: Jerry Wang/Unsplash

Ons sing:

God is hier teenwoordig
Laat ons biddend nader
Hier waar ons voor Hom vergader.

Ons bely dat God alomteenwoordig is. Dit beteken dat daar geen millimeter, sekonde of aspek van ons bestaan op aarde is waar God nie teenwoordig is nie. God is nie deelbaar nie. Hy is of teenwoordig of afwesig. Is daar plekke waar God nie is nie? Uiteraard nie.

Die volle Godheid is teenwoordig met alles wat Hy verteenwoordig.

Indien Hy so teenwoordig is beteken dit dat Hy in sy teenwoordigheid almagtig, onbeperk, alwetend ens. teenwoordig is. Die gedagte van sy teenwoordigheid impliseer dat daar niks is wat God nie weet nie. Hy sien en weet alles, niks ontglip sy aandag nie. Daar is dus nie ʼn plek waar God nie saam met jou is nie.

Joshua 1:9 – “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan”.

Dawid gaan verder as wat ons normaalweg sal dink en sê dat God selfs in die doderyk by jou is:

Psalm 139:7-10 “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

Jona het dit wat Dawid sê persoonlik beleef. Jona was ongehoorsaam en toe hy van God af wou wegvlug en in die proses sterf het hy uitgevind dat God selfs in die doderyk by hom was.

Jona 2:1-6 “En Jona het tot die Here sy God gebid uit die ingewande van die vis en gesê: Uit my benoudheid het ek die Here aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp — U het my stem gehoor. U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat ’n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan. Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van u oë; tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai. Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, Here my God!

In die nuwe Testament het hierdie openbaring verder ontvou; God is nie net by ons nie, Hy is in ons en deel van ons:

Efesiërs 4:6 –  “een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is”.

Een van die belangrikste beginsels om te verstaan is dat God nie net in jou is nie maar in elke mens.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Von ·

Ps 139…Here nerens maar nerens kan ek vir U wegkruip nie…dankie o Heilge God dat U beloftes vir ons elkeen geld…dat daar niks is wat ons van U kan skei nie

Rosa ·

Baie dankie vir elke dag se boodskappies kan nie wag om in die oggend te lees nie.
Wat n voorreg om God in my lewe te he!,

Frieda ·

Dankie vir hierdie belangrike boodskap Die Here is altyd met ons elke asemteug elke knip van my oog!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.