ToekomsVenster: Inkarnasie eerder as attraksie


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Lukas 9:48: “Toe sê Hy vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hy is groot.”

Die teks gee iets weer van verskillende mense wat deel is van die kerk en ook verskillende maniere waarop die kerk kan fokus; sommige op kinders en ander weer op bejaardes. Die teks help ons ook om te prioritiseer in ons bediening. Kinders en jongmense is belangrik vir God.

Wanneer God die kerk roep, roep Hy mense wat meedoen in Sy betrokkenheid in die wêreld. Die kerk en sy strukture is bepalend oor hoe ons georganiseer word om in hierdie meedoen saam te reis. Ek wil vir jou twee maniere op die tafel sit oor hoe jy jou gemeente kan help om te dien. Albei is wonderlike maniere – die een fokus om mense in die kerk te kry en die ander fokus om mense daar waar hulle is te organiseer en te bedien. Die een noem ons attraksie – jy maak jou geboue en organisasie so goed as moontlik. Die ander is inkarnasie – jy leer mense dat God in hulle werk daar waar hulle besig is. Hulle gaan daar waar hulle is hulle eie geloofsgemeenskap of kerk begin.

Die woord attraksie beteken dat jy iets na jou toe aantrek. In kerkterme beteken die woord dat ek die gemeenteaktiwiteite so goed sal doen dat ek mense sal trek. Mense wil dan deel word van hierdie suksesvolle gemeente wat sy sukses meet aan die hoeveelheid geld, mooi geboue en helaas aan die getal mense wat by die kerk betrokke is.

Inkarnasie se fokus is meer om mense te help verstaan dat God in en deur hulle werk daar waar hulle is. Jy gaan dus nie probeer om deur die inkarnasie manier mense in jou kerk te kry nie, maar om hulle in ’n kerk, dalk hulle eie kerk, te kry. Jy fokus nie om julle getalle meer te kry nie, maar jy dien die vreemdeling deur hom / haar te begelei in hulle eie geloofsreis.

Gebed:

Vader, help my om vandag die plek te vind wat U vir my gee. Miskien is ek iemand wat mense na my toe kan aantrek – laat dit dan so wees. As ek dit nie kan doen nie, help my dan om mense die pad te wys wat U wil hê hulle moet loop. As ek hulle kan help, wys my dan hoe en waar en wat ek moet doen of sê. Amen.

Leefwyse:

Dink oor jou gemeente. Gebruik julle ’n attraksie model – dit beteken julle spandeer geld aan julle gemeente om dit mooi en lekker te maak, of gebruik julle die inkarnasie model? Onthou, in die begin van ons dagstukkies het ons verduidelik dat inkarnasie beteken dat God in en deur ons werk. So, in ons kerkmodel beteken dit dat ons mense nie noodwendig na ons kerk toe trek nie, maar dat ons hulle help om daar waar hulle woon en werk die Here te dien.

Iets om vandag oor na te dink:

Dink oor die twee modelle. Skryf vir jou neer watter een van die twee jy sal kies. Begin met ’n breër gesprek. Vra die groepe waar jy betrokke is om die kerke te evalueer en te bespreek.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theuns ·

My skoon ouers het altwee n baie hoe ouderdom bereik. In die milieu waarin hulle gelewe het het hulle die woord AANTREKLIK gebruik om aantedui iets het jou emosineel diep geraak!Maw hy is diep bedroef gelaat!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.