ToekomsVenster: Inkarnasie – is nie ons en hulle nie


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

1 Korintiërs 14:26 Hoe moet dit dan wees broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n Psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank of ’n uitleg daarvan. Sorg dat alles tot opbou van die gemeente verloop.

Ons soek ’n plek waar ons kan werk, bly en lag. Die lewe is net so dat ons elkeen mense en ’n plek soek waar ons gelukkig kan wees. Ons soek baiekeer die mense en plek op die verkeerde plekke in die lewe. Die plek waar ek en jy ’n lêplek vir onsself kan kry, is by Christus.

Mense het mekaar nodig om by die regte plek uit te kom. Ons moet daarom oppas om net mense te veroordeel as hulle nie in die regte verhoudings is of by die regte plekke is nie. Ons ken nie die rede van hulle verkeerde besluite nie.

Wat bedoel ons met plek? Nie net bedoel ons letterlik ’n lêplek nie, ons bedoel ook dat ons nie elkeen dieselfde gemaak is nie. Kom ons gebruik beroepe as voorbeeld. Ons het nie almal dieselfde beroepe nie. Ons het mekaar nodig. Moenie een beroep of een plek hoër of slegter ag as jou eie nie. Dis maklik dat ons neerkyk op die huis of tuinwerker en dink dat die dokter of professor beter is.

Sodra ons begin neerkyk op ’n ander se lêplek of sy beroep, dan praat ons van ons en hulle. Inkarnasie breek daardie stigma, maak ons gelyke vennote; mede-burgers. Ons speel saam in dieselfde orkes. Christus se koms het almal gelyk gemaak voor God. Hy praat met die slim en geleerdes (tollenaars en Fariseërs), maar ook met die blindes en melaatses.

Gebed:

Vader vandag wil ek bid dat ek nooit meerderwaardig sal wees teenoor ander nie, dat ek mense nie sal sien as “my” mense en ander mense daar ver as “hulle” nie. Amen.

Leefwyse:

Dink vir ’n oomblik aan die mense wat naby aan jou is. Hoekom is hulle naby aan jou? Dink jy jy sou ander vriende ook kan maak?

Iets om vandag oor na te dink:

Onthou, elke mens het iets wat hulle tafel toe bring. Party kan lekker brood bak, ander kan weer bid, ander hou van jongmense en so kan ons aangaan. Die teks help ons om te besef dat elkeen met sy unieke menswees ’n bydrae lewer en moet lewer. Ons moet mekaar ruimte gee om dit te wees sodat dit tot voordeel van die groep sal wees.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.