ToekomsVenster: Inklusiewe taal, ʼn taal wat lewens verander


drukkie-kyk-goed-na-ander

Foto: Argief.

Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. – Lees Kolossense 3:11

Ons grootste vyand is dit wat in ons binneste woed.  Dit is ons selfsugtige begeertes (Jak 4:1).  Dit gee aanleiding tot konflik met mense.  Baie van daardie konflik is aangevuur deur jaloesie omdat ons onsself vergelyk met ander mense.

Die woordjies ek en my versteur God se harmonie vir die wêreld.  Dit issoleer mense van gemeenskap met mense.   Dit verhef die individu bo die groep en maak die eie belange belangriker as die groepsbelange.  Dit gee aanleiding tot ongesonde wedywering en sieklike vergelyking met ander.  Dit misgun die ander omdat die eie ek alles vir homself wil inpalm.  Die uiteinde is dat dit ook wil vat ten koste van die ander – al sou dit selfs geweld en die dood veroorsaak.

Die mooi Afrika-beginsel van: Ek is ‘n mens deur ander mense is nader aan die Bybel as die individualisties Westerse leefwyse waar alles net om die individu en eiebelange wentel.

Bybelse taal is inklusiewe taal.  Dit praat van ons in plaas van ek en my.  Die gerigtheid op mekaar is ook kenmerkend van die lewe van die nuwe mens (Kolossense 3:5-17).

Ons moet meer begin praat van óns in ons gesinne en ons gemeentes.  Ons het dringend nodig om in ons land toenemend te begin praat van óns.  Hierdie óns moet alle mense insluit (vers 11).  Daar is nie meer plek vir die een groep se belange bo dié van ander nie.  Ons leiers sal moet leer om inklusief te praat en dit te bedoel.

Ons sal ook moet begin om kontak te maak (te praat) met mense buite ons eie vriende en gemeentekringe.  Ons moet met opset buite ons gemaksone tree en opreg met mense uit ander groepe begin praat met die doel om hulle in te sluit.  Dit sluit mense uit ander generasies, geslagte, klasse en kulture in.  Die inhoud van ons taal moet sensitief wees om jouself nie bó die ander te stel nie. Wees sensitief vir beterweterigheid en kritiek.  Inklusiewe taal het ten doel om gelyke speelveld te skep en die Bybelse waarde van respek vir alle mense uit te beeld.

Taal is ‘n magtige medium om naasteliefde te verwoord en te bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.