ToekomsVenster: Innerlike krag en stabiliteit

(Foto: Ian Stauffer/Unsplash)

Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. – 2 Kor. 12:10b

Ons wêreld bewonder, komplimenteer, adverteer en bevorder sterk mense. Sterk mense is en word ons mentors, helde, voorbeelde en inspirasie. Brute dapperheid en onverskrokkenheid word hoog aangeskrewe.

Billy Ocean sing: “When the going gets tough, the tough get going”.

Nou om papbroekerig deur die lewe te gaan is ook nie aan te beveel nie. “Man of muis” in die regte konteks is ʼn belangrike vraag. Om met ʼn “skuus ek lewe, verskoon my ek wil nie inbreuk maak nie, jammer, jammer, jammer” te lewe is nie wat die Here vir en met ons in gedagte het nie, inteendeel.

Jy moet ʼn ruggraat hê waaraan die res van jou opgehang kan word. Iewers is daar ʼn fyn, aantreklike en Goddelike balans.

Jesus was saggeaard maar nie papbroekerig nie. Dit is nie ʼn lafaard wat sy lewe gewillig aan ʼn kruishout laat vasspyker nie.

Dit kos enorme selfdissipline en fokus om nie op elke stompsinnigheid wat tydens Jesus se onregmatige verhoor Hom toegesnou is te antwoord en jouself te verdedig nie.

Jesus se optrede getuig van innerlike krag en stabiliteit.

Ek wonder stellig waar jy jouself bevind?

Oordrewe selfbewus en selfverseker, jy en jou standpunt wat sonder skroom of aarseling aangebied word selfs vir mense wat nie daarna gevra het nie? Of temerig, verskonend en pateties?

Nee, daar is ʼn goeie gesonde en netjiese middelgrond.

Jy is jou eie mens, wees en leef dit maar onthou daar is ander mense ook.

God het dit goedgedink om die aarde met meer mense te bevolk – maak ruimte vir mekaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.