ToekomsVenster: Introspeksie en integriteit

hande-wat-liggies-vashou

(Foto: Diego PH/Unsplash)

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie – Romeine 3:23

Ons getuienis as Christene het tog net waarde as dit in die konkrete lewe tereg kom anders is dit daardie spreekwoordelike lugkastele. Dalk is dit een van die terreine waarop ons as geloofsgemeenskap nie geslaag het nie naamlik om die verband tussen leer en lewe te demonstreer en te leef. Watter nut het dit om ʼn bepaalde denkwyse, filosofie te onderskryf maar dit maak geen impak op die wyse waarop jy jou lewe inrig nie.

Wanneer ek dink aan die media en dit wat tans nuuswaardig is en dit in die lig van God se Woord probeer interpreteer kom die vierde deel van die Zondo verslag dadelik by my op. Hoofregter Raymond Zondo skroom nie om skuldiges by die naam te noem en aanbevelings te maak nie. Hy is egter ook ongeërg wanneer hy sonder verskoning die heersende politieke partye, die regering van die dag, verkwalik dat hulle die toedrag van sake waaroor die verslag handel, die sogenaamde staatskapingsverslag, tot so ʼn mate laat ontwikkel het sonder om hul toesighoudende verantwoordelikheid na te kom. Of genoemde party hulle aan die teregwysing steur is ʼn ander saak maar die saak is op die tafel. Die toekoms sal leer hoe dinge van hier af hanteer gaan word en of sy aanbevelings inderdaad op vervolging gaan uitloop.

Die spreekwoord dwing ons tot nederigheid wanneer dit sê, wie vinger wys moet weet dat vier terug wys na jou toe. Vingerwys in hierdie geval is wat my betref meer as gepas maar ons as Christengemeenskap moet onsself nie verontskuldig nie. Die vraag is inderdaad of ons ons broer op die splinter in sy oog wys en die balk in ons eie nie miskyk nie.

Die Bybel plaas ʼn baie hoë premie op persoonlike en korporatiewe integriteit. Integriteit het betrekking op alle aspekte van die lewe. Ons kan ander nie tot verantwoording roep as ons self oneerlik en ondeursigtig handel nie.

Is ons ja nog ja en ons nee, nee of verontskuldig ons onsself dat dit die tydsgewrig is waarin ons leef en as jy iets gedoen wil hê jy bereid moet wees om jou beginsels prys te gee? Hierdie is ernstige vrae wat eerlike introspeksie vra.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.