Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ‘n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ‘n seun hê.” – Gen. 18:13-14
Die verhaal van Abraham is bekend. Ten spyte van die belofte van die Here dat sy nageslag so talryk soos die sterre aan die hemelruim sal wees, is hy en Sara op gevorderde leeftyd steeds kinderloos.
Abraham probeer kortpad vat na die vervulling van die belofte en maak self ʼn plan met Sara se slavin, Hagar. Die seun wat gebore word is egter nie die seun van belofte nie en die eie planne van Abraham bring hartseer te weeg vir almal.
Om kortpad te vat deur self planne te beraam en uit te voer is onsinnig en kortsigtig. God kan nie in ʼn rigting gedwing word nie. Hy het sy tyd en is integriteitshalwe genoop om te doen wat hy beloof het al is dit ter elfder ure. In hul ouderdom verneem Abraham en Sara dat God hul versugting gehoor het en hulle gaan ontmoet. Alle hoop is egter verydel en die natuur is teen hulle. Hulle is albei verby die tyd van kinders hê. God word nie deur menslike ongeloof en voorbehoud gefrustreer in sy voorneme nie. Abraham en Sara word gekonfronteer met die God wat bo aardse realiteite verhewe is. Niks is vir Hom onmoontlik nie.
Is jy ook al verby die punt van glo en vertrou? Is die belofte lankal verby verjaartyd? Gee God ʼn geleentheid. Moenie op Hom opgee nie. Hy is groter as enige menslike beperking.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
LUKAS 1 :37 “Niks is onmoontlik vir GOD.”
Dankie Here van genade en barmhartigheid dat niks te klein of te groot , te min of te veel vir U almag is nie. Amen
Dankie vir die mooi boodskap. Vanoggend beteken dit weer baie vir my.
Baie dankie daar skrik ek weereens wakker …… moet nie ophou glo en vertrou nie ons dien ‘n God van Liefde en Genade. Amen