ToekomsVenster: Is jou oë donker?

Foto: Steve Halama/Unsplash

In die Bergrede waarmee ons baie bekend is, is daar ʼn ander metafoor wat die aandag trek. Jesus vergelyk die oog met lig. Hy sê dat die lig van die liggaam die oog is. As jou oog lig is, is die hele liggaam verlig. As jou oog donker is, is jou hele liggaam donker. Donker is negatief, depressief, pynlik, sonder visie en betekenis. Donker laat jou verdwaal, jy loop jou vas teen alles en almal. Jy is onvergenoegd, onvergewensgesind en ondankbaar.

Toegegee, daar kom in ons almal se lewens seisoene waar dit donker word in en rondom ons. Ons raak so in beslag geneem deur negatiwiteit en slegte nuus dat ons nie uitkoms kan raaksien nie. Die donker vergiftig ons gestel  en dikwels ook die van die mense wat spasie met ons deel. Elke woord getuig van pessimisme en opstand. Daar is ʼn rebelsheid in jou wat net nie tot rus wil kom nie. Jy is kwaad, vir jouself, vir ander en dikwels ook vir God.

In die begin het God ʼn skeppingswoord gespreek wat die gang van die geskiedenis onomkeerbaar beïnvloed het. Sy woorde was “laat daar lig wees” . Die duisternis kon homself nie handhaaf teenoor so ʼn magtige God nie. Dit het wegkruipplek gesoek maar kon dit nêrens kry nie. Toe wyk dit uit na die buitenste duisternis waar plek vir die duiwel en sy demone geskep is. Toe die lig inbreek en deurbreek kon die kontoere, fasette en perspektiewe van God se manjifieke skepping gesien word. Dit het die ruimte geskep waarbinne God mense op die toneel sou bring. Aanvanklik het hulle die lig geniet en bygedra dat dit kontinueer word. Met verdrag het hulle daaraan gewoond geraak en kon hulle dit nie meer na waarde skat nie. Die gevolg was dat dit ten spyte van die lig donker rondom hulle donker binne in hulle geword het.

Hoe lyk dit met jou oog? Waar is jou fokus? Leef jy in die lig, die ware Lig wat die wêreld verlig? Of het jy die subtiele en bedreigende uitnodiging van die duiwel aanvaar en die duisternis omhels?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.