ToekomsVenster: Is jy geloofwaardig of ongeloofwaardig?

juanita-badenhorst-danabaai-03-2019-01-10

Foto: Juanita Badenhorst.

Ons word bykans daaglikse gekonfronteer met oneerlike en selfsugtige leiers wat, gemotiveer deur eie belang en selfsug, niks daarvan dink om ander te beroof nie. Die vreemde ding is dat in Suid-Afrika mense wat letterlik geen integriteit het nie, weer en weer gekies word om die belange van dieselfde mense te verteenwoordig.

Ek dink aan die kandidaatslyste van sommige politieke partye wat tans met die oog op die komende verkiesing voorberei word en wonder hoe mense wat die land soveel skade berokken het, weer en weer aanbeveel word.

Wat het van integriteit geword?

Laat ons egter dié aangeleentheid eenkant los en vir ʼn slag eerlik nadink oor ons eie lewens.

Dit word gesê dat die laaste persoon met wie jy besigheid doen, ʼn Christen is. Wanneer iemand in daardie konteks op sy Christenskap wys, moet jy veral baie versigtig wees.

Hoe hartseer is dit nie dat Christene bekend staan as mense met geen geloofwaardigheid nie.

Van Christene word gesê dat hulle bevooroordeeld, ongeloofwaardig en vervelig is. Byvooroordeeld omdat hulle die regterstoel inneem en besluit wie aanvaarbaar en wie nie aanvaarbaar is vir die Koninkryk van God nie. Met vroom Bybeltekste word mense summier van God se genadewerk uitgesluit sonder om oor die eie onvolmaaktheid en sonde na te dink.

Daarbenewens hou Christene ʼn manier van lewe voor aan ander wat hulself nie volg nie. Hulle is somtyds die voorste lawaaimakers by die uithang plekke van die wêreld, wat nie beteken dat ʼn Christen nie die lewe kan geniet nie, inteendeel.

Dan is Christene vervelig en energieloos word gesê en sal ʼn mens nie dink dat hulle glo in die verlossing wat Jesus vir hul bewerk het nie.

In watter mate dit van jou waar mag wees, moet jyself besluit.

Natuurlik het die onverskillige en God afvallige wêreld nie waardering vir kerkmense nie en word hulle maklik van allerlei dinge beskuldig. Tog is daar soms ʼn element van waarheid in die goed wat mense van ons sê.

Ongeloofwaardigheid, die siekte van ons samelewing.

Wat Suid-Afrika nodig het, is mense met integriteit, baie integriteit.

Is jy so ʼn Christen?

Matteus 5:16 – Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.