ToekomsVenster: Is jy ondankbaar of tevrede?

juanita-badenhorst-danabaai-2019-01-10

Foto: Juanita Badenhorst.

Dankie dat ons met mekaar kan saamreis deur die lewe. Veral aan die begin van ʼn jaar wil ʼn mens nadink, ja meer as dit, behoort ʼn mens by vernuwing na te dink oor die wyse waarop jy jou lewe inrig en leef. Dit verg ʼn stukkie eerlikheid terwyl jy jouself spieël in die Woord van die Here.

Immers, dit is daar waar ons die kuns van die lewe leer en deur die Gees die genade vind om dit te bemeester.

Ons het verlede week ʼn bietjie gesels oor ʼn paar dinge wat ons dalk graag anders sal wil doen in die nuwe jaar.

In stede van ongelowig wil ons met vertroue in God lewe. Ons wil nie altyd negatief wees oor alles en almal nie maar waardering betuig vir die mooi dinge wat in elke mens en situasie is. Teenoor ʼn saai en verbeeldinglose lewe wil ons innoverend en kreatief leef en in stede van die woede wat veral die Suid Afrikaanse gemeenskap kenmerk, wil ons liefdevol en versoenend leef.

In hierdie week praat ons verder oor ʼn paar sake. Ons begin by ondankbaarheid as die negatiewe sy van vergenoegdheid. Dit is so maklik om ondankbaar te wees. Dit gebeur gewoonlik wanneer en na die mate dat ons onsself met ander mense vergelyk.

Natuurlik is ons nie so dom om “af, na onder” te vergelyk nie maar doen dit boontoe. Dan ry ons nie so ʼn mooi nuwe motor soos die ander nie. Ons bly nie in so ʼn mooi huis en ʼn gesogde voorstad nie en ons kinders presteer nie soos ander se kinders nie, om maar ʼn paar voorbeelde te noem.

Dis nie lank nie en ons word ondankbaar en koud teenoor die lewe. Dit terwyl ons in vergelyking met deursnee mense ver bo die gemiddeld leef.
Ons kla spreekwoordelik met die wit brood onder die arm. Die Bybel sê ons moet vergenoegd (tevrede en dankbaar) wees. Paulus stel vir ons daarin ʼn voorbeeld as hy sê dat hy geleer het om onder alle omstandighede vergenoegd te wees.

Ondankbare mense is nie sulke mooi mense nie. Dit is verder ʼn powere getuienis vir die Here.

1 Tessalonisense 5:18 – Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
Filippense 4:11 – Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp (vergenoegd te wees, ou Vertaling)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.