ToekomsVenster: Is jy ook lewensmoeg?

Foto: Aaron Burden/Unsplash

Werk in sy rus, dit is nou my poging om “labour in his rest” te vertaal.

Die lewe is somtyds ʼn dolle gejaag. Dit is ʼn goeie oefening om van tyd tot tyd rekenskap te gee van die dinge waarmee ʼn mens besig is. Om in balans te lewe, genoeg van alles en van sommige nie te veel nie is ʼn balanseer toertjie wat nie maklik kom nie. Voor jy jouself kry het ʼn sekere aangeleentheid jou al weer so in beslag geneem dat jou prioriteite skeefgetrek en onbevredig bly.

God, in alles eerste, staan soos ʼn paal bo water. Dit lokaliseer God nie tot twintig minute soggens voordat jy jou dagtaak aanpak nie. Dit ook, maar dit vervleg jou geloof in God en die inwerking van sy Gees met alles waarmee jy besig is. God is nie ʼn moment in ons lewens nie maar die alles deurdringende, omvattende, insluitende en motiverende rede vir ons bestaan.

Terug by ons eerste sinnetjie.

Ek wonder hoeveel van ons lesers is lewensmoeg op hierdie stadium.

Die jaar het reeds ver gevorder en jou vermoë om te hanteer en te onderskei is tot op sy limiete gestrek. Die geringste appèl op jou tyd en aandag dreig om jou oor die afgrond te stoot. Jy raak voor die TV, selfs tydens die nuus aan die slaap en word moeg wakker. Jou lyf skree sonder ophou, “rus my”. Jou gemoed is negatief en dis net nie meer lekker om te doen wat jy andersins vervullend gevind het nie. Mense moet uit jou pad bly en trane wel sonder rede in jou oë op. Jy is kwaad vir die wêreld en selfs effens kwaad vir God, immers kyk net wat jy alles doen (vir Hom, wie dan anders?) en jy voel of jy alleen staan. Daar is min waardering maar sommer baie kritiek. Jy het genoeg gehad en wil soos die digter wegvlug die woestyn in, as jy net maar vlerke gehad het.

Welkom, ek voel meermale so.

Is dit God se skuld?

Nee, my (en jou) onvermoë om vanuit die merkwaardige bemagtiging van die Heilige Gees te lewe, is dit wat die moeilikheid veroorsaak. Ons onwilligheid om gereeld tot stilstand te kom en te evalueer of ons nog met die regte dinge besig is. Die leuen dat ons onvervangbaar is en dat niemand dit so goed soos ons kan doen nie. Ons afhanklikheid van goedkeuring en sak en as ervaring as ons dit nie kry nie.

Ons moet leer om in sy rus in te gaan. God rus op die sewende dag maar het nie opgehou werk nie. Ons leef nou in die sewende dag se rus. Rus en die dinamiese krag van die Heilige Gees is sinonieme.

“Kom eenkant” het Jesus vir sy dissipels gesê en rus.

Diep asemhaal. God is hier teenwoordig. Laat ons biddend nader. Hier waar ons voor Hom vergader.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GL ·

Ek voel gereeld soos jy hierbo genoem het. Ek weet dat die hemelse Vader altyd daar is vir my en al Sy kinders wat soms so voel oor die lewe en daarvoor is ek baie dankbaar.

Dankie vir vrede en liefde uit U hand uit Vader. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.