ToekomsVenster: Is jy selfgerig of mededeelsaam?

juanita-badenhorst-danabaai-02-2019-01-10

Foto: Juanita Badenhorst.

Wanneer die druk toeneem en onsekerheid begin knaag is die gevaar groot dat ʼn mens se wêreld al hoe kleiner word. Jy doen alles in jou vermoë om jouself te beveilig en te handhaaf en begin algaande van ander vergeet.

Uiteraard het ons ʼn besliste verantwoordelikheid teenoor onsself en hulle wat die Here aan ons toevertrou het. Die Bybel leer ons immers dat wie nie vir sy huismense sorg nie slegter vaar as die heidene.

1 Tim. 5:8 – As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige.

Dit is uiteraard ʼn natuurlike reaksie dat ʼn mens beskermend sal wil optree teenoor die mense wat vir jou kosbaar is. Ongelukkig word “selfhandhawing” somtyds te ver gedryf.

Die hoë mure rondom ons huise, die veiligheidsbedrading, hoe nodig ook al dit mag wees, is simptomaties van mense wat met vrees lewe.

Vrees immobiliseer ʼn mens en verhoed dat jy jou roeping na behore uitvoer. Jy is so op eie behoud gerig dat die ander agterweë bly.

Jesus stel ʼn navolgenswaardige voorbeeld. Hy het gekom om te dien. Sy persoonlike veiligheid en behoud was sekondêr.

Hy het vir ander geleef, selfs vir hulle wat hom gespot en verneder het.

Uiteindelik betaal Hy die hoogste prys aan Golgota se heuwel betaal sodat mense gered kan word.

Ons word somtyds uitgedaag om ons eie lewensfilosofie in dié verband te formuleer en weer te besoek.

Nood het mos nie kleur nie. Is daar ʼn verskil in die koue en honger van ʼn wit, bruin en swart kindjie? Voel God anders oor sommige as oor ander? Hy is tog nie ʼn aannemer van die persoon nie. As dit die geval was, was ons ek en jy vandag nog verlore.

Handelinge 10:34 – En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie.

Dit is nie persoonlike kwalifikasie of prestasie wat sy genade vir ons ontsluit het nie, maar sy liefde. Ons moet ons naaste liefhê soos onsself. Wat ons vir onsself gun moet ons ook vir ander gun. (Efes.2:5)

Dit is uitdagend om hierdie saak in balans te bring en te leef. Mag die Here aan elkeen die genade gee om nie meegesleur te word deur dinge wat nié van die Here is nie. Immers, ons is in die eerste en laaste instansie Koninkryksburgers.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Naamloos ·

Mag ek asseblief vra dat diegene wat hier lees sal bid dat ek weer inkomste kan verdien? Asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.