ToekomsVenster: Is ons te besig vir God?

(Argieffoto: Pixabay)

Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! – Psalms 68:20

Die versoeking om jou verhouding met die Here “seisoenaal” te beleef, is nie gering nie. Die lewe is besig en die impak van elke dag se program uitputtend. Selfs skoolkinders se programme word volgeprop met die een aktiwiteit na die ander.

Gedryf deur die behoefte om as ʼn uitstaande en presterende skool bekend te staan, wat ʼn gesonde kwota talentvolle leerlinge sal trek, word baie druk op kinders en natuurlik ook leerkragte geplaas.

Dat kinders die geleentheid moet benut om te leer en aan ʼn verskeidenheid stimuli blootgestel te word, is so. Dit is ook besonders as ʼn skool in staat is om sy leerlinge op ʼn wye front te stimuleer.

Tog is my oortuiging dat veral presterende kinders te besig is. Benewens skoolaktiwiteite is dit privaat aanvullende klasse van allerlei aard. Ons leef in ʼn kompeterende wêreld en ons kinders moet wanneer hulle die arbeidsmark betree paraat en toegerus wees.

Daar is egter meer aan die lewe as prestasie. Iewers moet jy, ook ons kinders, doodgewone mens wees.

Al hierdie dinge maak dat ons Godsbelewenis afgeskeep word.

Sondae is almal te moeg om ʼn erediens of Sondagskool by te woon. Huiswerk moet opgevang word en daar moet vir toetse voorberei word.

Alles goed en wel, maar waar pas ons geestelike lewens en die groei en verryking wat daar moet plaasvind dan in?

Soos ouers kom kinders al hoe minder onder die geklank van God se Woord. Hier en daar vind jy ʼn skool wat nog ʼn duidelik Christelike etos het, maar die insidentele ervarings by die skool is nie genoeg om kinders geestelik paraat die lewe in te stuur nie.

Die versoeking is groot dat God ook moet inpas by ons besige skedule. Troues en begrafnisse en ander spesiale geleenthede konstateer die totaliteit van ons Godsbelewing. Traumas van allerlei aard bring ons daarby om na Hom te vra, maar net totdat die ongemak iets van die verlede is. Dan vervaag die ontmoetingsgebeure weer tot ʼn volgende krisis opduik.

Iets het verkeerd geloop by ons. Ons prioriteite is nie meer in plek nie. Ons persoonlike toewyding, gemeenskaplike aanbidding en viering, en ons saam op weg wees daarin dat ons die wil van die Here vir ʼn tyd soos hierdie wil onderskei, het na die agtergrond geskuif.

Is daar ʼn verband tussen die stand van ʼn nasie en die plek wat God in hul lewens beklee?

Dan weet ons, dink ek, waar die probleem in en met Suid-Afrika lê.

Die teks praat daarvan om dag vir dag saam met God te leef.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre ·

Ons lyster Christelik musiek in die kar, goeie geleentheid om lekker saam te sing en die gees te vul, daar is baie goeie Christelike radio stasies om na te luister.

Casper ·

Matteus33 vers 6.Soek eers die koninkryk van GOD en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word.Ek bid nie net vir my of my familie nie maar vir almal selfs mense wat GOD nie aanroep nie.Ek bid vir gesondheid,krag en kennis.So het baie dinge vir my helder geword waarvoor ek nie kans gesien het nie.Selfs in my donkerste dae was Hy daar vir my.Ek het selfs depressie oorwin deur gebed en geweier om antidepressante te gebruik.Vandag is ek met pension en geniet GOD se genade.Niks is te groot of te klein om voor GOD se voete te lê nie.

Althes ·

Dis net God wat intense vreugde en genoegsaamheid verskaf. Wanneer my proriteite nie reg is nie, voel ek leeg en eensaam. Dis belangrik om genoeg tyd in Sy teenwoordigheid deur te bring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.