ToekomsVenster: Ja beteken doodgewoon ja en nee beteken nee

bybel-01

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

My broers, dit is baie belangrik dat julle nie ‘n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle “ja” sê, moet dit “ja” wees; as julle “nee” sê, moet dit “nee” wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie. – Jak. 5:12

Die gebruik om te sweer ten einde die geloofwaardigheid van ʼn saak te onderstreep, was in gebruik. Daar is by die hemel (in God se Naam) en by die aarde (soos jou eie hoof) gesweer. Misleiding is gewoonlik teenwoordig as daar so gesweer word. So word die derde en die negende gebod oortree. Ons mag die Naam van die Here nie misbruik nie en ook nie valse getuienis aflê nie.

Christene se karakter en lewe moet so onbesproke wees dat hulle as mense van integriteit geken word. Hul woord moet hul eer wees. Ja beteken doodgewoon ja en nee beteken nee. Ons sukkel somtyds daarmee. Die ou vertaling sê, wat meer is as dit, is van die duiwel.

Die vraag is uiteraard hoe mense ons ken. As ʼn mens eenmaal geswig het voor die versoeking om ʼn leuen te vertel word dit al hoe moeiliker om konsekwent die waarheid te praat. Wat nie waar is nie, is ʼn leuen. Daar is nie neutrale grond nie. Ons buig die waarheid soms om by ons te pas.

Romeine 9:1 – In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my

Johannes 8:44 – Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.

Kol 4:6 – Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.

Gaan liewer op jou spoor terug en maak reg wat verkeerd is. Dit is ʼn ligter prys om te betaal as om te probeer om die leuen konsekwent te dien of te verdoesel.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.