ToekomsVenster: Jesaja vertel van Jesus wat soos ’n takkie uitspruit

(Foto: Heather Mount/Unsplash.)

Rondom ons, ja ons hoef nie ver te soek nie, net ʼn klein bietjie sensitiwiteit daarvoor ontwikkel en dan ontdek hoeveel simbole van genade daar rondom ons is. Simbole wat ons herinner aan God se genade maar wat insigself ook tekens van genade is.

Ons onmiddellike omgewing is uiteraard ons woonplek en die dinge wat daarvan deel is. Sommige van ons het mooi tuine met welige en veelkeurige plantegroei. Wat sien jy as jy by die venster uitkyk en hoe herinner dit jou aan die genade van God? Hoe bewus is jy van genade en hoe dank jy God daarvoor?

Ons het begin om te gesels oor die simbole van genade in my omgewing. Ek nooi jou graag om met my te deel wat in jou omgewing is en hoe dit jou lewe inpakteer.

Ek het gedurende die week verwys na die mossies en ander voëltjies wat soggens kom aansit vir hul daaglikse porsie saadjies. Ook die kleintjies wat al bewend naderstaan met oopgesperde bekkies en wag dat ma en pa iets daarin plaas.

Ons is bevoorreg om ʼn hele aantal bome in die tuin te hê. Sommige van die bome staan in buurman se tuin en die takke hang vrypostig oor die heining, nie dat ek omgee nie. Dit gratis guns en baie mooi.

Ek het nog altyd die grootste respek gehad vir ʼn boom, veral bome wat die merktekens van jare wat gekom en gegaan het, aan eie stam dra. Dit voel vir my so arrogant dat ʼn mens met sy elektriese saagmasjien besluit dat die boom vir een of ander rede moet weg. Binne minute is jare se groei en oorlewing en geskiedenis iets van die verlede. Dit is dan wanneer ek met pure lekkerkry gevul word as daar weer tekens van lewe kom. Dit herinner my aan die teks in Jesaja wat vertel van Jesus wat soos ʼn takkie uitspruit.

Jesaja 11:1 – ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.

Jesaja 11:3 – Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie.

Daarbenewens dig die Psalmdigter treffend hoedat iemand wat in die geloof staan en bly staan soos ʼn koelteboom is wat ʼn tuiste bied vir die voëls van die hemel en koelte gee vir wie ook al daaronder tot rus wil kom.

Psalms 1:3 – Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

Gelowiges word met die trotse en welige bome van Libanon vergelyk.

Psalms 104:16 – Die bome van die Here kry volop reën, die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het.

Uiteindelik word die Seun van die mens aan ʼn boom vasgespyker deur genadelose mense wat nie hul eie behoefte aan redding wil insien nie.

Bome herinner aan die genade van God. Dit herinner aan die vrug wat ʼn gewortelde bestaan lewer. Dit herinner aan die vrede wat by God gevind kan word. Dit herinner in die besonder aan die prys wat die Seun van God betaal het sodat ons kan lewe.

Gal 3:13 –  Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is.”

Ek hoor graag watter boodskap bome aan jou kommunikeer en hoe jy bome as simbole van genade beleef.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blomme ·

Ek geniet elke dag se dagstukkie uit Toekomsvenster met Jannie. Geesvervullend.

OW ·

Ek het in 1992 twee konifere bome in ons voortuin geplant en vernoem na myself en my vrou.Later het ek ook ‘n “rocket”geplant (ook ‘n spesie van die konifere) en na my seun vernoem.Die bome is vandag groot.Die een wat my naam heet is die hoogste en die met my vrou se naam die kortste.Die na my seun vernoem is die middel een en lyk nog in sy heug.
Terloops ek het deur my lewe mense ontmoet wat glad nie glo aan snoei nie.Soos ons die plantegroei van tyd tot tyd moet snoei vir nuwe lewe so snoei die Here ons ook elke dag vir nuwe lewe.Net snoei kan nuwe lewe bring,nuwe lewe wat die moeite werd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.