ToekomsVenster: Jesus begin preek

grassade-in-sonlig

Foto: Luisa Rusche/Unsplash.com

Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” – Markus 1:14-15

Hier verkondig Jesus die Evangelie van God. Markus praat van die Evangelie van Jesus Christus. Die Godheid van Jesus staan vas en is onbesproke. Volgens Markus fokus Jesus gedurende die eerste deel van sy aardse bediening op Galilea. Hy is egter onafwendbaar op weg na Jerusalem waar Hy die hoogste prys sal betaal.

Jesus sê die koninkryk het naby gekom. Dit verwys na sy reddende en verlossende teenwoordigheid in hierdie wêreld. Hy is koning oor alle samelewingsverbande. Ons moet sy heerskappy ook aankondig en vergestalt. Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is. Sommige as ʼn geloofsverklaring, ander onder dwang by sy verskyning.

Johannes betaal duur vir sy vreeslose optrede. Hy het sy taak volbring. Hy het die aankondiging gemaak en die pad voorberei. Sy missie is volvoer. Binnekort sal hy met die Vader in die hemel herenig word.

Jesus se werk het pas begin. Dis opmerklik dat Hy nie moeite doen om Johannes te besoek of Hom vir sy vrylating beywer nie. Dis nie waarvoor Hy gekom het nie. Johannes sal sy loon kry. Hy beweeg vlugvoetig na Galilea om kondig die Goeie Nuus aan. Die Koninkryk is hier.

Die Een waarna Johannes verwys het, “na my kom iemand wie julle met die Heilige Gees en met vuur sal doop”, staan nou midde sy mense. Hulle het Hom nie ontvang nie. Sy eiendom sal Hom verwerp. Dit ontmoedig Jesus nie. Wie daartoe bestem is sal gered word. Bekeer julle en glo die Evangelie. (Joh. 1:11)

Die boodskap van die koninkryk is ʼn beslissende gebeure. Dit het nog nie voorheen plaasgevind nie. Jesus is God se nuwe hoofstuk met die wêreld. Niks kan ooit weer dieselfde wees nie. Stadig maar beslis skeur die Evangelie ʼn pad oop deur die wêreld.

Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. Uiteindelik sal dit in volle heerlikheid by die tweede koms van die Seun aanbreek. Dan sal God alles wees vir alles. – 1 Kor. 15:24

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.