ToekomsVenster: Jesus binne, Jesus buite

(Foto: Irene Kredenets/Unsplash)

Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ‘n mens onrein. – Markus 7: 21-23

Ek het die voorreg om van tyd tot tyd by ’n aantal gestremdes wat beskermende arbeid verrig ’n opening waar te neem. Ek geniet elke oomblik daarvan omdat hulle so ongekompliseerd en kinderlik reageer.

So daag ek by hulle op met ’n melkkarton waarin swart koffie gegooi is. Ek maak praatjies en vertel hulle toe dat ek ’n dol oggend agter die rug het en nog nie ontbyt geniet het nie. Ek het so in die verbygaan sommer die melkhouer gegryp en gaan ietsie daarvan geniet as hulle nie omgee nie. Uiteraard is hulle meer as inskiklik en gun my die bietjie wit energie.

So leen en vooraf ’n deurskynende glas by die kombuis en gooi met genoegdoening en verwagting die inhoud daarin uit. In stede van spierwit melk kom ’n aaklige swart en bedenklike inhoud te voorskyn.

Die outjies skater van die lag en geniet elke oomblik daarvan terdeë.

Ek proe ewe aan die inhoud en maak ’n behoorlike demonstrasie daarvan. Ek gee te kenne dat die inhoud ‘af’ is en spu liggies voor my dat dit darem niemand tref nie. Teen hierdie tyd is dit pandemonium in die saal en kan die meelewing nie gekeer word nie.

Dan kom die boodskap: Wat gesê word van binne (ek glo in Jesus, Hy woon in my hart) en dit wat ek leef moet met mekaar ooreenstem.

Die houer sê melk maar wat te voorskyn kom stel erg teleur.

Soveel mense sê hulle is kinders van die Here maar met die geringste provokasie kom die natuurlike mens in al sy onheilige glorie na vore.

Paulus maan: “Julle lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook jul gedrag bepaal”. (Gal.5:25)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Ek lees so tyd gelede ‘n boek,en die een hoofstuk het hierdie aanhaling(skrywer onbekend)”Evil is socially inacted and constructed.It does not reside in our genes or in our soul,but in the way we relate to other people.Dit laat mens nogal dink.Boosheid ontstaan waar verhoudings tussen mense verkeerd loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.