ToekomsVenster: Jesus deur een van die binnekring verraai

silwer-stukke

Foto: Payaovat/Pixabay.com

Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na ‘n plan gesoek om Hom by ‘n geskikte geleentheid te verraai. – Markus 14:10-11

Dis byna onbegryplik hoe Judas, een van die twaalf, Jesus kon verraai. Sy verstaan van wie Jesus moes wees en die van Jesus het hemelsbreed verskil. Sy teleurstelling in Jesus van Nasaret was groot.

Die teks sê nie vir ons wat Judas se motivering was nie. Hy het die beursie gedra, was die tesourier van die groep. Dalk het hy homself aan die geld wat vir die bediening bedoel was gehelp. Dalk wou hy verhoed dat dit uitkom en indien wel nie terwyl Jesus daar is nie. Dalk het hy ook ander verwagtinge van Jesus gehad. Toe Jesus nie daaraan voldoen nie was sy teleurstelling groot en het hy nie kans gesien om Hom enduit te volg nie.

Hy bied aan om Jesus te verraai. Die Skrifgeleerdes is maar te bly vir hierdie geleentheid. Jesus het letterlik in hul skoot geval. Boonop ʼn voorbladstorie: Jesus deur een van die binnekring verraai.

Verraad is ʼn seer ding veral as dit uit die binnekring kom. Ons almal het die onsmaaklike ding al belewe. Die psalmdigter beklae sy lot as hy van sy teleurstelling vertel dat ʼn vertroueling hom verraai het.

Psalms 55:14 – As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het, sou ek dit kon verdra; as dit ‘n teëstander was wat my wou verneder, sou ek hom kon probeer vermy. Maar nou is dit jy, ‘n man soos ek, my maat en my goeie vriend.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.