ToekomsVenster: Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret

Foto: Sweet Ice Cream Photography/Unsplash.com

Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword. – Lees Markus 6:53-56

Wat ʼn merkwaardige getuienis. Toe Jesus uit die boot klim het hulle Hom dadelik herken. Dit verwys waarskynlik na sy fisiese voorkoms.

Daar is al baie gedebatteer oor Jesus se fisiese voorkoms. In sommige rolprente word Hy as die blonde man voorgestel. Haarlokke wat oor sy skouers speel en diep blou oë. In ander is Hy gespierd want Hy was darem ʼn timmerman se seun en het mos in sy vader se voetspore gevolg soos wat dit in daardie dae die praktyk was. Ander redeneer dat Hy ʼn donker kompleks gehad het omdat Hy ʼn Jood en boonop ʼn boorling van die bloedige warm Israelse grondgebied was. Hoe stel jy vir Jesus van Nasaret voor?

Interessant hoe ontsteld mense word wanneer Jesus op enige ander wyse voorgestel word as dit wat in hul gedagtes leef. Sê nou maar Jesus was ʼn Chinees, ʼn Amerikaner, ʼn swart man van Afrika. Sou dit ʼn verskil gemaak het aan sy verlossingswerk? Sou jy ʼn probleem gehad het om met Hom te identifiseer?

Die Bybel het intieme besonderhede van Jesus van Nasaret. Hoe sal jy daaroor voel as ek jou vandag vertel dat Jesus waarskynlik onaansienlik, gewoon en onaantreklik was? Die blou oë en lang blonde hare is waarskynlik ʼn mite.

Jesaja vertel vir ons dat Hy sy voorkoms mense nie sou beïndruk het nie. Lees gerus saam met my.

Jesaja 53:2 – Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie

Jesaja 52:14 – Baie mense was ontsteld oor hom, hy was so misvormd dat hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ‘n mens gehad het nie

Ons is so ingestel op voorkoms. Dit beteken nie dat ʼn mens maar ongeërg kan wees en onversorg deur die lewe gaan nie. Netjies wees is ʼn getuienis in sigself. Jou uiterlike sê iets van wat aan die binnekant aan die gebeur is. Ek dink egter nie Jesus het uit die jongste modetydskrif geklee nie. Soos die res van sy Persoon was sy kleredrag waarskynlik gewoon. Tog was daar ʼn heerlikheid wat mense na Hom getrek het.

Uiteindelik is daar geloot oor sy beskeie kleredrag en is Hy, die Seun van die mens, naak aan die wêreld vertoon sodat ons naaktheid bedek kon word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.